HJS leer Argentyne 'n les
2007-03-22
'n TOERSPAN van San Isidro in Buenos Aires, Argentinië, het verlede Donderdag harde bene op die rugbyveld teen Hoër Jongenskool Paarl gekou.
Die wedstryd tussen die o.19A spanne het teen ’n vurige tempo plaasgevind met die spelers wat ’n harde, fisiese stryd met mekaar gevoer het.
San Isidro het eerste bloed getrek met ’n onver-doelde drie deur die haker, maar HJS het enkele minute later hierop geantwoord met ’n drie van hul eie wat ook onverdoel is. HJS het in die eerste helfte nog ’n drie aangeteken en ook met ’n straf-skop geslaag om teen rustyd met 13-5 voor te loop.
Die spanne het mekaar redelik opdraende gegee wat veroorsaak het dat daar aan beide kante op kritieke tye foute ingekruip het. HJS het egter in die tweede helfte die oorhand gekry en die vaste fasette grootendeels gedomineer.
Die Argentyne kon verder slegs een verdoelde drie aanteken in teenstelling met HJS wat nog drie drieë gedruk het en met een doelskop geslaag het.
Die tuisspan het dié strawwe wedstryd uitein-delik redelik gemaklik met 30-12 gewen.
Kyle Strydom (agtsteman), Johan Wilken (vleuel), Stephan Badenhorst (senter), Gideon Louw (senter) en Lincoln Heugh (vleuel) was die driedrukkers vir HJS terwyl Matthew Swart (los-skakel) met ’n straf- en doelskop geslaag het.
Die voorwedstryd tussen die o.19B spanne was self ’n taai affêre. HJS het hier ook die botoon gevoer en met 19-10 gewen.
Die spanbestuurder van San Isidro, Eduardo Meyrelles, het gesê dat die span ten tyde van die wedstryd alreeds elf dae in Suid-Afrika was. Ge-durende dié tyd het hulle ook teen Stellenbosch Rugby Akademie en Langenhoven Kollege (Oudtshoorn) te staan gekom.
Hulle het die afge-lope naweek hul laaste wedstryd van die toer teen Hopefield gespeel.
More
News
|