Feestelike basaar
2007-03-22
SATERDAG is 'n hoogtepunt vir die NG Kerk Franschhoek wanneer die gemeente hul jaarlikse basaar uit die boonste rakke vir die gemeenskap aanbied.
Die basaar open om 10:30 en hou aan tot laatmiddag. op die terrein van die NG Kerk in die middel van die dorp. Kyk uit vir die braaivleisvure en die wit tent! Volop parkering is beskikbaar.
Hierdie jaar word daar weer 'n mondvol by die kosstalletjies aangebied: gebraaide Karoo lamtjops, sosaties, tuisgemaakte boerewors, gebraaide hoender, kerrie-afval en roosterkoek. Daarmee saam 'n goeie glas wyn en vars slaaie.
En wat is 'n basaar sonder die pannekoek, poeding, pasteie, terte, koeke, kleinkoekies, beskuit, biltong, vars groente en vrugte. Vir die visliefhebbers is daar gebraaide snoek en tuisgemaakte kerrievis. Vir huis toe neem: neute, gedroogde vrugte, vars blomme, juwele, olyfprodukte en vele meer.
Die gewilde teetuin onder die rustige ou koeltebome beloof om weer die soettande in vervoering te hê, terwyl Franschhoek se alombekende pianis Alfio se klavierklanke die siel verkwik.
Daar is ook die jaarlikse opwindende veiling van wyn, kuns, vars vleis en handwerk. Die veiling begin om 11:30 op die voorstoep van die kerksaal.
Die kinders sal vermaak word met speletjies, speelgoed, lekkernye, gesigverf, hare spuit, spookasem, tombola, waterglybaan en 'n springkasteel.
As dit reën, is daar ’n groot tent.
More
News
|