Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vergrootglas op belastingbetalers

Vergrootglas op belastingbetalers
 
2007-03-22

Susan Botha

DIE Drakenstein Munisipaliteit is in ’n proses om alle rekeninghouers se besonderhede na te gaan en seker te maak dat al die data korrek is.

Dit is ’n enorme taak, met 52 000 rekenings wat nagegaan moet word.

“Dit is ’n proses wat van tyd tot tyd nodig is,” sê André Abrahams van die tesouriedepartement.

“Data verouder en verander en dit is die eerste keer dat Drakenstein (na die amalgamasie van die verskillende dorpe) so iets aanpak.”

Hy sê die proses bring nie net data op datum nie, maar dit gaan ook uiteindelik die inkomstebasis van die munisipaliteit verbreed.

“Dit is tot almal se voordeel, want dit beteken ’n meer regverdige betaling vir dienste.

"Meer inkomste beteken ook dat tariewe teen 'n laer koers kan styg,” het Abrahams verduidelik.

“Woonhuise se inligting word vergelyk met die bouplanne, maar besighede besoek ons fisies,” verduidelik Migiel Groenewald, wat aan die hoof van die span van sewe staan.

“Ons kyk veral na ooglopende tekorte, soos ’n beboude erf wat nie betaal vir ’n rioolpunt of vullisverwydering nie,” voeg Abrahams by.

Hulle is reeds sowat 75% klaar met Paarl en Mbekweni en het reeds op heelwat verskille en foute afgekom.

Dit wissel van huiseienaars wat meer toilette (rioolpunte) het as waarvoor hulle betaal, tot ’n fabriek wat as landbougrond geklassifiseer was en so oorgekom het van die vorige distriksraad, sonder om ooit verhoogde eiendomsbelasting te betaal.

Die ‘foute’ kan belastingbetalers se sak diep slaan, afhangend van die aard daarvan. Bedrae van R121 tot R1,2 miljoen word genoem.

Hieronder val private huiseienaars, besighede en die staat.

In sommige gevalle is die ‘foute’ tot voordeel van rekeninghouers, soos die geval waar r9000 krediet toegestaan is vir 'n onbeboude erf waar die maandelikse heffing vir waterbeskikbaarheid elke maand die jaarlikse bedrag verteenwoordig het. Die rekeninghouer het hierdie bedrag onwetend maandeliks vereffen.

Die foute word bereken op die huidige jaar en twee terugwerkend, tot 2004.

“Ons het besluit om dit net twee jaar terugwerkend te maak, hoewel die wet voorsiening maak vir drie jaar,” sê Abrahams.

Mense wat geraak word, kan reël om die verskuldigde bedrag rentevry te betaal oor 'n tydperk van tot 12 maande, af hangend van die bedrag.

Briewe word uitgestuur na almal wat geraak word en hulle kan die kontakpersoon soos aangedui, nader vir enige navrae.

“Soms het data verander tot voordeel van die rekeninghouer, soos toilette wat toegemaak is, en dan moet hulle dit onder ons aandag bring,” sê Groenewald.

Abrahams het verduidelik dat hulle niks kan doen aan eienaars wat hul eiendom verkoop en in besit van ’n uitklaringsbewys van die Munisipaliteit is.

“Ons kan ook nie nuwe eienaars laat betaal vir foute op vorige eienaars se rekenings nie.”

Abrahams sê hulle kry maandeliks sowat 500 briewe wat teruggestuur word omdat die adresse onbekend is. Hierdie adresse kan ook nou uitgeklaar word en heelwat koste so bespaar word.

“Ons kyk ook na gevalle waar rekeninghouers meer as een rekening ontvang vir verskillende dienste. As ons dit kan konsolideer, sal dit baie koste spaar.

“Ons kyk ook na kwessies soos kerke wat soos besighede aangeslaan word en moontlike hulp aan skole.”

* The Municipality is checking the information of all its ratepayers to eliminate errors on the data base.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za