Tweede sewestoernooi by Windmeul Primêr
2007-03-22
DIE Windmeul Primêre Skool bied môre sy jaarlikse Danwell Demas Sewestoernooi aan.
Spanne van agt laerskole het verlede jaar aan die kompetisie deelgeneem toe dit vir die eerste keer gehou is, maar vanjaar is dié syfer verdubbel.
Die o.13 spanne Charleston Hill, Wellington, Alfons, Kersboslaagte, Paarlzicht, Newton, Amstelhof, Windmeul, Nederburg, Orleansvale, Daljosfat, St. Albans Hilcrest, Paulus, Groenberg en Soetendal sal in aksie wees.
Die mannetjies van St Albans sal oorgehaal wees om vanjaar hul titel met sukses te verdedig. Die kompetisie sal weereens deur die Springbok sewesspeler en oud-leerder van Windmeul Primêr, Danwell Demas, geborg word.
Die vier spanne wat in die beker- en plaateindstryd speel, sal prysgeld ontvang, danksy plaaslike plaaseienaars wat ook finansieel tot die toernooi bygedra het.
Die toernooi begin om 16:00 en die wedstryde sal die aand op die mooi-geleë veld onder spreiligte voortgesit word.
Eet- en drinkgoed sal te koop aangebied word, met die opbrengs wat aangewend sal word om ‘n tweede rugbyveld vir die skool te ontwikkel. Toegang is R5.
More
News
|