Newtons wen naelskraap
2007-03-22
IN ‘n naelskraap opwarmingswedstryd het die eerste rugbyspan van Newtons Rugbyklub Saterdag vir Stellenbosch/Coronations op Idasvallei 13-12 geklop.
Dié vriendskaplike wedstryd is teen ‘n hoë tempo gespeel en hoewel hanteringsfoute voorgekom het, is die toeskouers tog op opwindende rugby getrakteer.
Die terugkeer van Newtons se losskakel met die kanonvoet, Christo Fransman, het dividende vir die span afgewerp.
Fransman het in die doodsnikke van die wedstryd die beslissende strafskop oorgeklits. Hy het ook die drie van Carlton Jacobs (skrumskakel) gedoel en ‘n verdere strafdoel betaal.
Die wedstryd was gekenmerk deur harde voorspelerspel en hier het die voorrymanne van Newtons, Fernando Sauls, en veral Rottas Appolis, hul uitstekend van hul taak gekwyt.
Die agsteman, Delwayne Baron, het ook ver ente veld gewen met sy kraglopies.
Agterlangs was die veteraan-heelagter Andrew Shand soos die rots van Gibraltar onder die hoë balle.
Bradwell Swartz, binnesenter, het ook die oog gevang.
Newtons speel Saterdag in Agter-Paarl teen Windmeul United Rugbyklub en op 31 Maart in sy tradisionele vriendskaplike wedstryd teen Paarl Rugbyklub op Newton Park.
* In ‘n ewe taai, gelykop stryd het Violets Rugbyklub vir Laer Paarl (Blues) 13-12 geklop.
‘n Sterk noordewind het die strategie van die wedstryd bepaal, terwyl die twee pakke voorspelers baie goed teen mekaar opgeweeg het. Die humeure het juis om dié rede by tye opgevlam, maar die skeidsregter het sake goed onder beheer gehad.
Rodger Uren was ‘n angel op senter, terwyl Brandon Anderson voorlangs vir Blues uitgeblink het.
Violets speel Saterdag weg teen Caledon. Die bus vertrek om 10:00 vanaf Groenheuwel en is R30 (toeskouers) en R20 (spelers).
Die manne van Young Standards Rugbyklub het Saterdag vir Windmeul 22-11 laat les opsê. Die wedstryd was in winderige toestande gespeel en was aanvanklik stadig, maar het later geleidelik pas opgetel met skitterende rugby deur Young Standards.
Elroy Arendse en Owen Tiemie het agterlangs uitgeblink, terwyl Clinton Truziers voorlangs die pap dik aangemaak het.Standards se drie drieë is deur Gurswin Williams, Owen Tiemie en Clinton Truziers gedruk. Rico Davey het met ‘n strafskop en twee doelskoppe geslaag.Young Standards speel Saterdag weg teen Villagers Newton.
More
News
|