Paarl-Oos in halfeindstryd
2007-03-22
DIE spelers van GMT Paarl-Oos Krieketklub het verlede Saterdag ’n gemaklike tuisoorwinning in die kwarteindronde van die Premier Liga behaal nadat hulle Vredenburg/Saldanha met ses paaltjies geklop het.
Die Weskusspan het die loot gewen en eerste gaan kolf, maar het erg kleigetrap teen die boulaanval van Paarl-Oos en kon slegs 128 lopies aanteken.
D Barnard (31, 4x5) en A Huiseman (30, 4x2) was die enigste kolwers wat noemenswaardige bydraes met die kolf gelewer het.
Waylin September (5/21 in 10,4 beurte), Garth Fortuin (3/41 in 7 beurte) en Elroy Adams (2/30 in 15 beurte) was verantwoordelik vir die ineenstorting van die besoekers se kolflys.
Die tuisspan het sonder enige moeite die gevraagde aantal lopies aangeteken en het op 131/4 geëindig.
September (61nun, 4x7), Manfred de Kock (26, 4x2) en Bruce Miller (25, 6x1 en 4x4) was die beste kolwers vir Paarl-Oos met Dewald van Wyk (3/50 in 12 beurte) wat vir die besoekers uitgeblink het met die bal.
Paarl-Oos se tweede span het deurgedring na die semi-finale in die Reserwe Premierliga nadat Brackenfell kort voor hul wedstryd Saterdag gekanselleer het.
GMT Paarl-Oos speel Saterdag in die semi-finale teen Victoriane op Coetzenburg terwyl die tweede span tuis teen Van der Stel te staan gaan kom.
Diegene wat belang stel om die wedstryd in Stellenbosch by te woon kan vir Andrew Apollis skakel by 021-862-5549 in verband met vervoer.
More
News
|