Ruimte vir die jeug
2007-03-29
DIE sentrum vir jeug- en familiebediening van die Hugenote Kollege het onlangs sy deure op Wellington geopen.
Die sentrum staan bekend as Space, aangesien die naam die werkswyse van “ruimte maak” vir bedieninge en inisiatiewe wil verkoop.
Dit is ‘n ekumeniese navorsings-, ontwikkelings- en dienssentrum van die Program Jeugwerk van die Hugenote Kollege wat diens lewer aan alle Christelike kerke en jeugorganisasies ten opsigte van jeug- en familiebedienings.
Die sentrum spits hom daarop toe om reaktiewe dienste aan gemeentes en instansies te lewer. Dit is dienste wat deur gemeentes of instansies versoek word en sluit onder meer kampe, eredienste, eendaggeleenthede, kursusse, praatjies/lesings, werkswinkels en fasilitering van jeugbedieninge in.
Daar sal ook gekyk word na pro-aktiewe dienste soos feeste, saamtrekke, kursusse, werkswinkels en forums.
Die sentrum is ook ingestel op navorsing en ontwikkeling. Dit sluit in die ontwikkeling van materiaal, kursusse, programme en modelle wat kan bydra tot die positiewe versterking van gemeentelike jeug- en familiestrukture.
Pastorale versorging is nog ‘n been waarop die sentrum hom sal toespits. Dit behels die pastorale begeleiding van jongmense in krisis.
Die pastorale spreekkamer is elke Woensdag tussen 14:00 en 16:00 oop vir konsultasies teen ‘n minimale fooi van R20.
Jongmense wat gekonfronteer word met groepsdruk, selfmooordneigings, depressie, dwelmafhanklikheid, molestering, gesinsgeweld, ens, kan die Space kantore skakel om sessies te boek.
‘n Bronnesentrum rond die werkstruktuur van Space af wat daarop gemik is om as ondersteuningsnetwerk vir die jeug en gemeentes te dien.
“Ons droom is om die sentrum die voorkeurruimte vir jongmense, jeugleiers en gemeentes te maak. Dit moet die kern van kerklike jeugbediening nasionaal word. ‘n Plek waar jongmense en families ‘n huis weg van die huis ervaar,” sê André Smith, sentrumkoördineerder by Space.
Een van die eerste kursusse wat aangebied word, is ‘n gevorderde kursus in kontekstuele pastoraat, van 16 tot 19 April.
In hierdie vierdag-kursus word kursusgangers op ‘n praktiese wyse begelei om deur interaksie verskillende generasies deur middel van pastorale begeleiding te bereik.
Almal met ‘n passie en gawe om mense pastoraal te begelei, moet seker maak hulle woon hierdie geleentheid by. Die aanbieders is ds Niel van Doorn en ds Hanneke Maulink.
Dit vind plaas by die kantore van Space in Pentzstraat en die koste is R400. Dit sluit etes en kursusmateriaal in en daar is nog slegs plek vir 16 mense.
‘n Inleidende kursus in kinderbediening vind op 29 en 30 Mei plaas. As jy ‘n passie het om met kinders tussen die ouderdom van 3 en 12 in jou gemeente te bedien, bied hierdie kursus in verhoudingsgerigte kinderbediening jou die geleentheid om jou in hierdie veld te bekwaam.
Die kursus dek alles vanaf die uitkomste van doeltreffende kinderbediening, ontwikkeling- stadiums van die kind, metodes om kinders te bereik asook hoe om jou kinderbediening te organiseer en te administreer. Kostes beloop R200 en sluit verversings en kursusmateriaal in.
Vir verdere besonderhede kan Gielie Loubser (sentrumdirekteur) of André Smith (koördineerder) gekontak word by tel 021-873-2736 of faks 086-603-3354. Die sentrum kan ook bereik word by e-pos space@hugenote.co.za of die webtuiste www.youthspace.co.za.
More
News
|