Kaasproe-fees
2007-03-29
DIT is weer tyd vir die immergewilde SA Kaasfees wat van 27 tot 30 April op die prentjiemooi Bien Donné plaas tussen die Paarl en Franschhoek aangebied word.
Vanjaar se proe-fees der feeste spog met boetiek- en ander befaamde kase van erkende en nuwe kaasmakers van regoor die land asook egte Franse kase wat spesiaal vir die geleentheid ingevoer word.
Kom geniet ’n luilekker dag in die platteland omring deur die pragtige Bolandse berge. Proe jou pad deur al jou gunsteling kase en komplementeer dit met een (of meer) van die wye verskeidenheid wyne, olywe, varsgebakte brood en ander lekkernye wat te koop aangebied word.
Steek by die kundiges kers op oor hoe om jou gaste met kaas te verlei en gaan wys die kinders hoe koeie, bokke en selfs skape gemelk word.
’n Beperkte getal kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket. Kaartjies kos R75 per persoon en sluit ’n handige inkopiesak, feesprogram, kaas-geïnspireerde proeë en demonstrasies deur van die top kosfoendi’s in die land in. Wynproeglase is beskikbaar by die hek teen R5 elk.
Senior burgers kan die fees enige dag bywoon teen ’n afslagtarief van R45 en kinders onder 12 jaar word gratis toegelaat.
Die hekke sal van Vrydag 27 tot Sondag 29 April van 10:00 tot 18:00 oop wees en op Maandag 30 April van 10:00 tot 16:00.
Vir meer inligting, kontak die organiseerder, Agri-Expo, by 021-975-4440, per e-pos by cheese@agriexpo.co.za of besoek www.cheesefestival.co.za.
More
News
|