Luisterryke konserte by sangsimposium
2007-03-29
VIER luisterryke aandkonserte wag op konsertgangers tydens die Stellenbosch Internasionale Sangsimposium, aangebied deur die Departement Musiek van US van 1 tot 5 April.
Die hoogtepunt van die simposium is 'n gala-uitvoering deur die internasionaal bekroonde mezzo-sopraan, Michelle Breedt, wat onlangs as Buitengewone Professor by die Departement Musiek, US, aangestel is.
Sy sal Dinsdag om 20:00 in die Endlersaal, US Konservatorium, 'n uitvoering lewer van werke deur Loewe, Schubert (insluitend die bekende Mignon en Kennst du das Land?), Liszt en Kurt Weill, asook Arnold van Wyk se grootse sangsiklus, Van Liefde en Verlatenheid.
Die bekende Stellenbosse pianis en begeleidster, Elna van der Merwe, sal haar begelei.
Die bekroonde sangers André Howard (bariton) en Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan) sal Sondag om 20:00 in die Endlersaal 'n uitvoering lewer van gewilde liedere deur onder andere Vaughan Williams, Wolf, Rossini en Schubert. Truida van der Walt en Hendrik Hofmeyr sal die begeleiding verskaf.
Maandag, ook om 20:00 in die Endlersaal, sal die bekende Suid-Afrikaanse sopraan Virginia Davids en van haar talentvolle studente van die Universiteit van Kaapstad se Musiekkollege en die Kaapstadse Operastudio te hoor wees in æn opwindende program van bekende arias uit verskeie operas, insluitend Fidelio, Cosi fan tutte, La Traviata en Tannhäuser. Hofmeyr sal weer eens die klavierbegeleiding behartig.
Op Donderdag 5 April om 20:00 in die Endlersaal, sal Michelle Breedt saam met die simposiumdeelnemers te hoor wees tydens 'n finale afsluitingskonsert. Die aand se program sal bestaan uit verskeie werke vir vokale ensemble, insluitend komposisies deur Schubert en Mendelssohn.
Konsertgangers kan 'n spesiale simposiumbywoner-pas bekom wat toegang tot alle simposiumgebeure, meesterklasse, konserte en lesings teen 15% afslag bied. Kontak die Departement Musiek by 021-808-2499 om 'n aansoekvorm te kry.
Kaartjies vir die aandkonserte is beskikbaar by die Konservatorium kaartjiekantoor en sal ook voor die aanvang van die uitvoering by die Endlersaal-loket beskikbaar wees. Vooraf telefoniese besprekings kan gemaak word by 021-808-2345.
Vir meer inligting of navrae, kontak die US Departement Musiek by 021-808-2499 of stuur 'n e-pos aan simposium@sun.ac.za. Besoek ook die webwerf www.sun.ac.za/music.
More
News
|