Dienslewering van verkeer was swak
2007-03-29
OP Saterdag 10 Maart het Hoër Meisieskool Paarl se lang beplande pretloop plaasgevind. Volgens die organiseerders is daar reeds verlede jaar in Oktober met die Verkeersdepartement geskakel.
Die roete is goedgekeur en beamptes is beskikbaar gestel om die veiligheid van deelnemers te verseker.
In Januarie van hierdie jaar, asook die week waarin die pretloop sou plaasvind, is dit wéér telefonies met hulle bevestig, ook dat verkeersbeamptes aan diens sou wees om die verkeer te reguleer.
Die Saterdagoggend het die verkeersdepartement egter sowat 40 minute laat opgedaag. (Terloops, dieselfde pretloop het verlede jaar ook 15 minute laat begin omdat dieselfde departement die betrokke oggend ook nie opgedaag het nie en by hul kantore gehaal moes word.)
Een van die organiseerders het intussen na die Verkeersdepartement gery om te probeer om verkeersbeamptes te kry wat kan help, maar is uiters swak ontvang.
Gedurende die gesprek is sy as die skuldige party voorgehou terwyl die departement nie fouteer het nie; sy is daarvan beskuldig dat sy onopgevoed is aangesien sy gewaag het om te verwag dat die verkeersdepartement die skool in kennis moet stel dat hulle nie meer die diens kan lewer nie; en is ook beskuldig dat sy die oorsaak is hoekom daar geen hoop vir hierdie land is nie.
Hierdie tipe dienslewering en onprofessionele optrede deur amptenare van die Drakenstein Munisipalitiet wek groot kommer.
As ouers wil ons verneem wat moet die publiek en skole doen ten einde goeie dienslewering te verkry van verkeersbeamptes en die verkeersdepartement?
Bekommerde ouer
Die munisipale woordvoerder rea-geer as volg: Twee van die beamptes wat diens moes lewer op die spesifieke dag, het ongelukkig geliefdes op daardie tydstip aan die dood afgestaan. Hierdie onvoorsiene omstandighede het tot ‘n tekort aan mannekrag gelei wat veroorsaak het dat beamptes onmoontlik by al hul funksies kon uitkom. Die saak is met die organiseerders by die verkeerskantoor agterna uitgesorteer en was bygelê. Verskoning word aangebied vir die ongerief en hoe die saak gekommunikeer is.
More
News
|