Albions klop Laer Paarl met nuwelinge
2007-03-29
DIE jonger spelers van Albions Rugbyklub het verlede Saterdag die geleentheid gekry om vir die eerste span in ’n vriendskaplike tuiswedstryd teen Laer Paarl Rugbyklub te speel.
Onder die nuwe spelers het Bradley Buys (haker), Theo November (voorry) en Elrich Erasmus (flank) hulle goed van hul taak gekwyt met Albions wat dié kragmeting 22-17 gewen het.
Albions het eerste punte aangeteken met die flank Fherris Adams wat agter die doellyn gaan draai het, maar Laer Paarl het kort daarna ook ’n drie aangeteken, deur die losskakel Reduwaan Afrika, wat sake weer gelykop gemaak het.
Die agterlyn van Albions het hul opponente se verdedigingslyn pragtig gebreek waarna die vleuel Christopher Kainda beloon is met ’n pragdrie.
Kort voor lank het Donny Goliath met nóg ’n drie vir Laer Paarl teruggeslaan.
Afrika het die eerste doelskop van die wedstryd oorgeskop om die besoekers teen rustyd met 10-12 te laat voorloop.
Gedurende die tweede helfte het Albions met hernieude passie begin speel en hul bewegings beter afgerond. Die heelagter Elrico Pietersen het ’n skitterdrie gedruk wat deur Lincoln du Preez verdoel is.
Albions het nóg ’n drie gaan druk om hulle met 22-12 te laat voorloop, maar Laer-Paal het nie gaan lê nie. Mario Green het met ’n goeie drie die besoekers weer binne trefafstand gebring, maar dit was ongelukkig te laat om die knoop vir Laer Paarl deur te haak. Elrico Pietersen is as die speler van die wedstryd aangewys.
Albions Rugbyklub vertrek môre op ’n kort toer na Groot Brak en beplan om teen Groot Brak Rugbyklub te speel.
More
News
|