Wyn word slaapgoed
2005-05-19
Malané Bosman
WYN word wyd aangewend, maar inbrekers se plan om die matrasse in hul skuilplek by die Parys begraafplaas met vol wynbottels teen die klam grond te beskerm, het wenkbroue laat lig.
Toe wynmaker Kosie Moller verlede Woensdag in sy kantoor op die plaas Klein Parys kom, moes hy tot sy ontsteltenis sien dat inbrekers die vorige nag die plek gestroop het.
Honderde bottels wyn is weggedra, ook selfone, 'n skootrekenaar, kraggereedskap, ’n yskas en 'n kluis wat uit die muur geruk is.
Insp Jacques Lume van die Paarl polisie honde-eenheid het die spoor gevat en saam met insp Lincoln Johnson en kollega Mgxantsa op ’n skuiling in die digte Port Jackson bos by die begraafplaas afgekom.
In die opslaanhuis van groen seil was matrasse, klere en ’n magdom gesteelde goedere. Onder die matrasse is die bottels en kartonne wyn netjies gepak.
Buite die skuiling was kraggereedskap en die yskas, nog in die blou seil waarop dit deur die bosse gesleep is.
Nadat vingerafdrukke geneem is, het die polisiebeamptes, plaasbestuurder Herman Roux en Moller die lêplek deursoek.
Moller het dankbaar sy wyn en gereedskap kon huis toe neem, maar het met ’n swaar gemoed die leë tas waarin die skootrekenaar met belangrike inligting was, onder sy arm gedra.
Speur-konst Philip Telle (807-4000) hoop hy sal met inligting die skootrekenaar kan opspoor en die inbrekers agter tralies kry.
* Stolen goods have been recovered in a makeshift shelter in bushes next to a cemetery.
More
News
|