Streeptruie Kelder Kavaliers
2007-03-29
Jacques Rossouw
DIE Boland Kavaliers moes verlede Saterdag in die Vodacombeker-reeks op Wellington die knie teen Westelike Provinsie buig ten spyte van die feit dat hulle in ’n stadium met 19-18 voorgeloop het.
WP het van die begin af ’n stewige houvas op die wedstryd gehad, maar het kort ná rustyd hul greep effens verslap, wat toegelaat het dat die Bolanders twee vinnige drieë deur die slot David de Villiers en die flank Henley du Plessis aangeteken het.
Alhoewel die Kavaliers se losskakel, Jacques Schutte, gedurende die eerste helfte met twee strafskoppe geslaag het, het hy egter minder sukses behaal om sy spanmaats se drieë te verdoel.
Nóg ’n drie, hierdie keer deur die kaptein en haker Conrad Burke, het die Bolanders weer binne trefafstand gebring met die plaasvervanger Justin Peach wat die doelskop oorgeklits het.
Die teenwoordigheid van die Springbok-losvoorspeler Joe van Niekerk, wat eers ná rus-tyd opgedraf het, het ’n groot impak op die wedstryd gehad. Hy het self ook ’n draai agter die doellyn gaan maak om sy span uiteindelik met 24-37 te laat seëvier.
Die spanbestuurder van die Kavaliers, Denver Pienaar, het gesê die swak een-op-een verdediging van Boland het ’n groot rol gespeel in Saterdag se wedstryd.
“Ons het in die vaste fasette redelik goed opgeweeg, maar dit was by die breekpunte waar die WP sterker was,” het Pienaar gesê.
“Hulle het die bal ook vinniger van die een kant van die veld na die ander versprei en ons kon net nie vinnig genoeg skuif om dit teen te staan nie.”
Saam met Van Niekerk het Hayden Groepes (linkervleuel), Deon Fourie (haker), Terry Jacobs (regtervleuel), Wilfred Pieterse (plaasvervanger) en PJ Vermeulen (plaasvervanger) elk een drie gedruk. Warren Edwards (losskakel) het met twee doelskoppe geslaag en ook een strafskop oorgeskop.
More
News
|