Bosman stamgenote staan reg
2007-04-04
DIE reëlings vir die 300-jarige bestaansfees van die Bosmans vandeesmaand in Drakenstein is goed op dreef.
Die stamvader van die familie, Hermanus Bosman, het op 19 April 1707 in Suid-Afrika aangekom en as sieketrooster in die Drakenstein-gemeente (Paarl) gaan werk.
Meer as 120 mense het nou reeds hul plekke by die fees bespreek en talle ander stamgenote het aangedui dat hulle ook so wil doen.
Die sperdatum vir besprekings is aangeskuif na Donderdag 12 April.
Aktiwiteite van die feesnaweek skop Vrydag 20 April af met ’n braai op die plaas Lelienfontein by Wellington wat al agt geslagte aan die Bosman-familie behoort.
Saterdag 21 April is daar ’n konferensie van die Bosman-familie by die Grande Roche Hotel wat geleë is op die oorspronklike Bosman-stamplaas De Nieuwe Plantatie in die Paarl.
Die sprekers is Isak Bosman (navorser van Bosman-geslagsregister en samesteller van nuwe Bosman-boek), Adinda Vermaak (geskiedkundige van Kuilsrivier oor die Bosman-digters), Lourie Bosman (president van Agri Suid-Afrika oor Bosmans in die landbou) en Nallie Bosman (voormalige uitvoerende Hoof van ABSA oor Bosmans in die sakewêreld).
Ook Saterdag praat Martiens van Bart by die Rebelle Monument op Laborie, Paarl, oor die Bosman rebelle van die Anglo Boereoorlog.
Daar is ook ’n toer van die Paarl Strooidakkerk se kerkgebou en grafte, waar die stamvader gewerk en Bosmans oor drie eeue ’n rol gespeel het.
Saterdagaand om 19:00 word Herman Charles Bosman se kortverhale getiteld “Jerepigo Gems” in die Paarl stadsaal uitgevoer deur die bekende akteur, Patrick Mynhardt.
Die Sondag om 10:00 is daar ’n kerkdiens met nagmaal (en opsionele doop) in die Paarl Strooidakkerk gelei deur prof Hendrik Bosman van die Teologiese Kweekskool aan die Universiteit van Stellenbosch en ander Bosman-predikante.
Die saamtrek word afgesluit met middagete in die Paarl Stadsaal.
Met borgskappe is die koste per persoon vir deelname aan die fees R750 (wat die plaasbraai, konferensie, opvoering deur Patrick Mynhardt en middagete in die stadsaal insluit).
Bespreek by Frik Bosman (frik@paarlmail.co.za) of tel 021-863-2256.
More
News
|