Drieëfees by Gim rugbytoernooi
2007-04-04
DIE jaarlikse Paarl Gimnasium o.16 Rugbytoernooi het die afgelope naweek afgeskop en sommer op die eerste dag vir groot opwinding gesorg.
Ongeveer 700 spelers van 28 skole regoor Suid-Afrika het Saterdag uitgedraf en die nagenoeg 1500 toeskouers met vinnige, vaardige rugby vermaak.
Altesaam 62 drieë is gedurende die 14 wedstryde van die eerste ronde gedruk en het groot verwagtinge vir die volgende twee rondes geskep.
Die stryd tussen Hoërskool Marlow en Hoërskool Helpmekaar was hard onder die voorspelers, met Marlow wat in die tweede helfte gedomineer het.
Altwee agterlyne was gretig om met die bal te hardloop, maar dit was Marlow wat met 24-8 geseëvier het.
Hoërskool Monument en Hoër Jongenskool Paarl was in ’n groot stryd om balbesit gewikkel met Monument wat met hul meer kliniese vertoning 15-5 gewen het.
’n Rits beserings en talle foute het die kragmeting tussen Hoërskool Centurion en Hoërskool Brackenfell ietwat bederf.
Centurion het egter hul kanse effens beter benut en met 17-7 die botoon gevoer.
Die voorspelers van Hoërskool Klerksdorp, veral die vaskop-stut Lourens Fourie, het teen Hoërskool Rondebosch gedomineer. Dit was egter die stewige verdediging en teenaanvalle van Rondebosch wat hulle met 29-5 laat wen het.
Hoërskool Waterkloof het in hulle wedstryd teen Paul Roos Gimnasium te veel foute gemaak, maar Paul Roos het self tydens die uitvoer van hulle bewegings verkeerde oordeel aan die dag gelê. Die Stellenbossers het 22-5 verloor.
Afrikaans Hoër Seunskool was geheel en al in beheer teen Hoër Landbouskool Boland. Alhoewel Boland Landbou 38-17 verloor het, het hulle nooit gaan lê nie en ook een van die dag se aanskoulikste drieë gedruk.
Hoërskool Hugenote (Springs) en Oakdale Landbouskool het ’n fisiese wedstryd teen ’n vinnige tempo gespeel. Altwee het uitstekend verdedig, maar Hugenote het met 19-7 gewen.
Die hoofwedstryd van die dag tussen Hoërskool Paarl Gimnasium en Hoër Tegniese Skool Middelburg was ’n stryd tussen twee groot pakke voorspelers en vlugvoetige agterspelers.
Die Middelburg-manne het deurentyd goed gespeel, maar dit was die Paarliete wat met goeie taktiese skoppe 34-12 gewen het.
Hoërskool Westville het tydens hul ontmoeting teen Hoërskool Kemptonpark effens meer balbesit gehad in een van die senutergendste wedstryde van die dag.
Dit was egter Kemptonpark, wat hul kanse om punte aan te teken meer benut het, wat met ’n 10-6 sege as oorwinnaars uit die stryd getree het.
Die voorspelers van Hoërskool Florida het grotendeels teen Hoërskool Michaelhouse gedomineer. Michaelhouse se aanvalspatrone was eenvoudig briljant wat die wedstryd 24-8 in hul guns laat swaai het.
’n Tekort aan konstruktiewe rugby en verskeie ongedwonge foute het Hoërskool Framesby in die stof laat byt teen Hoërskool Durban. Alhoewel Framesby beskou is as die gunstelinge in dié wedstryd, het die Durbaniete naelskraap met 23-19 koning gekraai.
Ten spyte van die feit dat Hoërskool Dinamika 26-5 teen Hoërskool Punt verloor het, het Dinamika deurentyd sterk teenstand gebied.
Altwee spanne het gulde geleentheid om punte aan te teken deur hul vingers laat glip.
Goeie, positiewe rugby deur Hoërskool EG Jansen was ongelukkig nie genoeg om die kragtige span van Hoërskool Glenwood te kelder nie.
Glenwood het net te veel skietgoed gehad en hul opponente met 43-15 van die veld gevee.
Hoërskool Outeniqua het ook hard probeer om Grey Kollege in die stof te laat byt. Grey was net te sterk en het deur kwaliteit-rugby hul teenstanders 38-8 geklop.
Die tweede ronde van die toernooi het Maandag plaasgevind.
Altesaam 60 drieë is gedruk en die uitslae is soos volg: Framesby klop Florida 11-6, Oakdale klop Dinamika 7-0, Outeniqua klop Monument17-13, Marlow klop Kempton Park 19-8, Punt klop EG Jansen 19-8, Grey klop Michaelhouse 59-14, Paul Roos klop Hugenote (Springs) 24-21, Glenwood klop Rondebosch 22-20, Waterkloof klop Paarl Gim 15-12, Helpmekaar klop Brackenfell 17-15, Klerksdorp klop Westville 35-29, HTS Middelburg klop DHS 11-7, Boland Landbou klop Centurion 22-10, HJS klop Affies 14-11.
Die eindronde word vandag gespeel en die eerste wedstryde begin om 08:30.
More
News
|