Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland-vroue in finaal

Boland-vroue in finaal
 
2007-04-04


DIE Boland Vroue-krieketspan het Saterdag op die Parysvelde oortuigend met Kwazulu-Natal afgereken tydens die semi-finaal van die Nasionale Eendag-kompetisie.

Dié gedugte span was aan die einde van hul rondomtalie-wedstryde steeds onoorwonne (twaalf gespeel en twaalf gewen) en is as gunstelinge in die kragmeting teen KZN bestempel.

Dit was die eerste keer dat hierdie twee spanne teen mekaar te staan gekom het vandat die nuwe ligastruktuur vier jaar gelede in plek gestel is.

KZN het die loot gewen en die Bolanders ingestuur om eerste te gaan kolf.

Die tuisspan se aanvangskolwers, Audrey Petersen (52) en Leighshé Jacobs (12), het die beurt goed begin met ’n vennootskap van 61 lopies voor die eerste paaltjie gekantel het.

Daarna het die paaltjies meer gereeld geval met die middelorde-kolwers wat effens gesukkel het om die momentum aan die gang te hou.

Merecé Mackier (21) en Ilse Langhout (20) het egter meer standvastigheid aan die Bolandse kolflys gebring voordat die laaste paaltjie op 168 geval het. N Turner (4/46 in 10 beurte) het vir KZN uitgeblink met die bal.

Die besoekers se kolfbeurt het vroeg in duie gestort. Met die telling op 11/5 in die tiende beurt was die Natallers onder geweldige druk.

Die Bolanders het deur middel van hulle boulers, asook uitstekende veldwerk deur Peta-Anne Drake, hul greep op die wedstryd versterk en sodoende die ineenstorting van KZN se kolfbeurt tot gevolg gehad.

Johmarie Logtenberg (23) was die enigste kolwer wat weerstand teen Boland se boulaanval gebied het en moes hulpeloos toekyk hoe die paaltjies rondom haar geval het. KZN is vir ’n skamele 59 uitgeboul.

Alicia Smith (4/15 in 8,5) was verreweg die beste bouler van die dag met kaptein Sunette Loubser (2/10 in 7) en Merecé Mackier (2/14 in 7) wat haar uitstekend ondersteun het.

Boland het die wedstryd oortuigend met 109 lopies gewen en dring dus deur na die eindronde.

Northerns en Westelike Provinsie het in die ander halfeindronde in Pretoria teen mekaar te staan gekom. Die WP het hier met 10 paaltjies geseëvier.

Die finaal tussen Boland en WP vind eerskomende Saterdag om 10:00 by Bolandpark plaas.

Dié twee spanne het verlede jaar ook teen mekaar in die eindstryd gespeel. Alhoewel die WP daar gewen het, gaan Boland hierdie jaar probeer om die bordjies te verhang.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za