Rekenaars val in diewe se skote
2007-04-04
’n Vlaag skootrekenaar-diefstalle het die Paarl die afgelope paar maande getref.
’n Skootrekenaar met waardevolle inligting oor HIV en Vigs programme in die werkplek, is verlede week uit ’n kantoor in Huguenot gesteel.
Die dief het Donderdag om 13:00 daarin geslaag om die gebou se sekuriteit te omseil en in die eerstevloerkantore van Agathos Consultancy in Jan van Riebeeckweg te kom.
Kontak insp Gavin Lombaard (021-877-5240) met inligting oor dié diefstal of indien die grys Sahara skootrekenaar te koop aangebied word.
Sedert Desember is meer as 20 sulke rekenaars reeds gesteel vanuit kantore, besighede en selfs skole.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat daar oënskynlik ’n groot aanvraag is vir tweedehandse skootrekenaars.
“Die publiek besef nie hoe maklik dit is om dié rekenaars te steel nie, want anders as gewone rekenaars wat lomp is en baie drade het, kan ’n skootrekenaar se kragdraad eenvoudig uitgetrek word en die dief loop dan onopsigtelik uit die gebou met die rekenaar onder hul arm.
“Mense moet nooit hul skootrekenaars sonder toesig los nie, en indien so moet dit toegesluit word.”
Skootrekenaar-gebruikers kan wel ’n slot vir hul rekenaar koop wat dit vasmaak aan die lessenaar. Die polisie vra ook vir die publiek om die reeksnommers van hul rekenaars en ander toerusting neer te skryf om sodoende sulke items te identifiseer indien die goedere teruggevind word.
* Thieves are targeting laptop computers in office buildings.
More
News
|