DA, OD mik na oorname van stadsraad
2007-04-04
DIE oorname-wolk hang reeds geruime tyd oor Drakenstein se munisipale raad, en nou lyk dit asof daar uiteindelik uitsluitsel gaan kom na die onlangse provinsiale kongres van die Onafhanklike Demokrate.
Volgens ingeligte bronne is ’n samewerkingsooreenkoms gesluit tussen die DA, OD, die Vryheidsfront Plus en die ACDP. Die OD was aanvanklik in ’n koalisie met die ANC.
Prosedure vereis dat ’n mosie nou by ’n spesiale raadsvergadering ingedien word om die ANC uit die kussings te lig. Daar moet ses dae kennis gegee word van sodanige mosie.
Die ANC (26 setels) het verlede jaar die Raad oorgeneem met die steun van die OD (10). ’n Party of groepering het 31 van die 61 sitplekke op die raad nodig vir ’n volstrekte meerderheid.
Die ooreenkoms tussen die DA (20), OD (10), ACDP (1) en die Vryheidsfront Plus (1), gee dié groep dan 32 setels en dus ’n meerderheid van een.
Indien die oorname slaag, is dit nog glad nie seker dat die nuwe regeerders lank in die saal sal wees nie.
Volgens gerugte is daar reeds ondernemings van heelparty raadslede wat in September die vloer wil oorsteek na ander partye toe, wanneer die oorloop-periode aanbreek.
Dit kan natuurlik weer die balans in die raad verskuif.
Die nuwe Icosa-party lyk ook blykbaar baie aanloklik vir ’n paar van die raadslede.
* The DA, with the support of the ID, plans to take over the Drakenstein municipal council soon.
More
News
|