Doodgegooi
2007-04-04
’n VLAAG klipgooiery vanaf brûe op die N1 by die Paarl die afgelope paar maande, het Maandagaand die lewe van ’n onskuldige vragmotorbestuurder geëis.
Ses maande al is verskeie voertuie deur klippe getref wat deur kwajongens óf vanaf die Ceciliastraat-brug gegooi word, óf vanaf die De Zoete Inval-brug.
Niemand is in dié voorvalle ernstig beseer nie, maar vandeesweek het die noodlot getref.
Michael Tukwayo (45) en sy mede-drywer, Eben Madouri, was onderweg na Kaapstad, toe ’n klip wat die grootte van ’n man se vuis was, deur die voorruit gebars het.
Die klip het Tukwayo hard teen die bors getref en hy is op slag dood. Madouri moes beheer oor die voertuig oorneem en het die vragmotor veilig tot stilstand gebring langs die pad.
Tukwayo se vrou het die tragiese nuus van haar man se dood ontvang vanaf die moord-toneel.
Sy het uit Kaapstad sy selfoon geskakel om navraag te doen hoekom hy nog nie vir aandete by die huis was nie. Volgens haar was hy nooit laat vir ete nie.
Die polisie was gisteroggend druk besig om leidrade op te volg en is op soek na drie jong verdagtes, vermoedelik van die De Zoete Inval woonbuurt. ’n Saak van moord word ondersoek.
Waarnemende stasiebevelvoerder snr/supt Esperanza Daniels het gesê dat die polisie alles in hul vermoë sal doen om die skuldiges vas te trek en voor die volle mag van die gereg te bring.
Enige inligting oor klipgooiery op die N1 kan deurgegee word aan insp Victor Carolus by 021-807-4000.
* A truck driver was killed when a stone was hurled at his vehicle from the De Zoete Inval bridge.
More
News
|