Drakenstein se finansies is beslis gesond
2007-04-04
NADAT ek onlangs Drakenstein Munisipaliteit se geouditeerde finansiële state (in GAMAP formaat) vir die jaar geëindig 30 Junie 2006 bestudeer het, wil ek kommentaar lewer.
Anders as die verslag in die Paarl Post op 8 Maart oor die Ouditeur-generaal en die DA se kritiek, glo ek dat daar oorgenoeg redes in die finansiële state is om positief te kan voel.
Die kapitale besteding vir 2006 van R124,5 miljoen is R70,2 miljoen meer as die kapitale besteding in 2005 en R89,1 miljoen is uit eie fondse gefinansier - geen nuwe langtermynlenings is vir dié doel opgeneem nie.
Dit verklaar dan ook waarom die kontantposisie (beleggings en bank) verminder het van R148,6 miljoen in 2005 na R108,7 miljoen in 2006. Na my beskeie mening was dit ‘n baie wyse besluit om nie nuwe lenings op te neem nie.
Langtermynlenings het verminder van R88,2 miljoen in 2005 tot R73,9 miljoen in 2006.
Rente op langtermynlenings het gedaal tot R11,9 miljoen in 2006 teenoor die R12,7 miljoen in 2005.
Dit is belangrik dat geen verdere langtermynlenings, met die doel om eie kapitale besteding te finansier, in die toekoms opgeneem word nie.
Die doelwit moet wees om die langtermynlenings van R73,9 miljoen wat uitstaande was op 30 Junie 2006 so spoedig moontlik terug te betaal.
Die kontant (beleggings en bank) op hande van R108,7 miljoen op 30 Junie 2006 is voldoende en dek die items (reserwes, deposito’s, krediteure, skenkings vanaf regering ensomeer) wat wetlik voorgeskryf word.
Nie alle reserwes het kontantdekking nodig nie, anders as wat die DA beweer.
Die items in die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag wat aanleiding gegee het tot die kwalifisering van die geouditeerde finansiële state vir 2006 (naamlik vaste bates, werknemersvoordele, langtermyndebiteure en debiteure), is van ‘n minder ernstige aard en moet in die 2007 finansiële jaar reggestel word.
Die Hoof van Finansies (in dié geval waarnemend) moet toesien dat alle items in die OG se verslag van 2006 aangespreek en suksesvol afgehandel word.
Dit is verder belangrik dat ‘n werkbare prestasiebestuurstelsel (performance management system) in plek gestel word, sodat prestasiebonusse korrek bereken kan word in die toekoms.
‘n Streng beleid rondom wanpraktyke (onder andere ongemagtigde oortydbetalings) moet deur die Burgemeesterskomitee in plek gesit word, wat dan deur die finansiële hoof streng toegepas kan word, tesame met die wetlike voorskrifte soos vervat in die “Municipal Finance Management Act (MFMA)”.
Dit behoort enige onduidelikhede rondom moontlike vervolgings al dan nie, uit die weg te ruim.
Laastens, maar nie die minste nie, wil ek die waarnemende Hoof van Finansies, mnr Cavin Petersen, en sy personeel hartlik gelukwens met stiptelike voltooiing en indiening van die geouditeerde finansiële state vir 2006 en 2005.
Dit het sekerlik gepaard gegaan met absolute toewyding en baie harde werk, ongeag die feit dat verskeie bestuursposte in die finansiële afdeling nie gevul was nie. Hou so aan.
Alfred Cupido
More
News
|