Diewe slaan toe by sentrum
2007-04-12
DIEWE het toegeslaan op ’n werkswinkel op Wellington wat beskermde werksgeleenthede skep vir epileptici.
Carecraft (voorheen bekend as Sanel) word gehuisves in die ou Abattoir-gebou in Versaillesstraat.
Die diewe het elektriese bedrading verwyder, ’n wasbak afgeruk en dit saam met koperpype en stortdeure verwyder. ’n Gedeelte van die plafon is ook verwyder. Die vragmotor se flikkerligte is ook uitgeslaan, vermoedelik om die lampies vir Tik-gebruik te verkry.
“Die inbrekers bekommer hulle nie dat hulle die brood en botter van die mense wat hier werk, uit hulle monde neem ni. Van die mense se werk staan nou stil,” het assistent-werkswinkelbestuurder Michael Sias gesę.
“Toe ons die skade die Maandagoggend ontdek, het ons afgesit na die nabygeleë tweedehandse winkel onder in Versaillestraat, want ons het geweet dat dit die naaste plek sou wees waar die kwaaddoeners hulle buit sou gaan verkwansel.
“Later die oggend het ene Garth Swarts met ’n wasbak opgedaag. Terwyl hy rondgestaan en wag het vir sy geld het die winkeleienaar ons en die polisie ontbied.”
Met hulle geredekawel, is die wasbak op die vloer flenters gegooi. Swarts het laat spaander, na bewering met skroewe, ’n kraan, toiletdeksel en deurhandvatsel uit die winkel, onder sy blad.
Insp Biga Jones (873-2913) ondersoek klagtes van inbraak, diefstal en beskadiging van eiendom. Swarts (30), van Versaillesstraat 59, Wellington, kan met die ondersoek help.
More
News
|