Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Trane toe dividende opdroog

Trane toe dividende opdroog
 
2007-04-12


PAARLIETE wat meer as R11 miljoen belê het by ’n skema wat paraffien en diesel oor die land sou versprei, se drome van rykdom het opgedroog.

Carl Haggard (43) van Rawsonville het meer as drie jaar gelede begin om veral onderwysers, polisiemanne en bewaarders te oorreed om hul werk te bedank en hul uittreepakkette en pensioengeld te belê by sy skema.

“Ek het nie sommer blindelings ingegaan nie,” het ’n bewaarder gesê.
“Ek was selfs tot in Worcester waar Carl met sy lorrie by die depot agter Agrimark paraffien getenk het. Hy het vertel hoe sy vragmotors by Total depots regoor die land aandoen en die brandstof versprei.

“Ek het selfs die brandstofmaatskappy geskakel, en daar is bevestig dat Carl ’n kliënt is. Ek het ongelukkig nooit gevra oor sy sogenaamde nasionale verspreiding nie.”

Nog ’n bewaarder se vrou sê: “Ons het almal ’n goeie rede gehad om in te gaan - ’n siekte in die huis, ’n kind op universiteit, skuld.

“En Carl was so ordentlik, met die mooiste maniere. As hy klaar gepraat het, het jy soos ’n koningin gevoel.

“Noudat ons oor hom begin twyfel, trek hy met sy kort lyf, sy rooierige hare en sy maniere heelwat op Arthur Brown van Fidentia.”

In 2004 het Derick Kellerman van Noorder-Paarl by ’n tabakfirma uitgetree en ’n reusebelegging by Haggard gedoen.

Ses weke later het hy sy eerste maandelikse dividende ontvang. Hy het vriende en familie van die belegging vertel, en ook hulle het ingekoop.

Die Kellerman woning in Kronkelstraat was die depot waar kontrakte geteken is en dividende uitbetaal is.

Jare lank het dit goed gegaan, tot in Augustus verlede jaar. Toe was daar al meer as 60 beleggers in die Paarl, enkeles met tot R1 miljoen in die skema, baie ander tot R400 000.

En toe begin die geld opdroog.

Nou beskuldig beleggers Kellerman daarvan dat hy ’n “vennoot” van Haggard was.

“Sou ek my vriende en familie ingetrek het as ek gedink het dis ’n bedrogspul?” verweer Kellerman.

“Ons het almal vir Carl vertrou. In Oktober verlede jaar het hy ’n vergadering toegespreek in die Paarl. Almal het tevrede daar uitgestap. Hy het so eerlik, opreg voorgekom.

“Maar toe het ek begin ongemaklik raak. Ek hoop steeds dat ons geld iewers veilig is, anders het hy my ook ’n rat voor die oë gedraai.”

’n Oud-poskantoorwerknemer wat R200 000 belê het, het glo as antwoord op haar navraag by Haggard gekry, “Jou geld is nie by Fidentia nie, ha-ha.”

Die brandstofverspreiding was nie al waarin Haggard beleggings aangemoedig het nie. Daar was ook ’n SMS-maatskappy genaamd “Amawina” wat hy saam met ’n vennoot van Johannesburg begin het.

Paarlse speurders het die klagtes ondersoek en nou die dossier oorgegee aan ’n spesialisondersoeker van die Handelsmisdaadeenheid in Kaapstad. Die moontlikheid van ’n piramide-skema, word ondersoek.

Haggard het al meermale met die gereg gebots. Hy het twee vorige veroordelings vir roekelose en nalatige bestuur en is skuldig bevind op twee klagtes van ongerymdhede gepleeg in gevangenisse toe hy blykbaar vir Korrektiewe Dienste gewerk het.

“Die R11 miljoen kan R100 miljoen word,” het ’n belegger hierdie week na aan trane gesê.

“My hart kan aanhou hoop, maar my verstand sê dat ons geld vir altyd weg is.”

* A suspected pyramid scheme involving 64 Paarlites who stand to lose more than R11 million, is being investigated by the commercial branch of the police.





More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za