Chaos op plaas oor werker
2007-04-12
’n PAARLSE plaas-afsetting Dinsdagaand het geëindig met ’n boer wat bewusteloos geslaan is en ’n ANC-raadslid met ’n bebloede gesig en stukkende motorruit.
Die oorsaak van die twee wedersydse aanklagte van poging tot moord - dié van wynmaker Joan Ernstzen en haar man Trevor, en van Dan Kotze, het die volgende dag rustig langs die Denneboom-pad in ’n tent gesit.
Die drama het reeds in Februarie begin op die plaas Le Fût, toe Johannes de Water se werkskontrak op die plaas beëindig is.
De Water is in Mei 2006 aangestel deur Joan Ernstzen as algemene werker en hy het, met sy vrou Johanna en drie kinders, ingetrek op die plaas.
Sy dienskontrak is in Desember 2006 beëindig weens afwesigheid sonder verlof, maar later tydelik verleng tot einde Februarie 2007.
Volgens Ernstzen het De Water self kennis gegee en vir haar gesê dat hy en sy gesin na Port Elizabeth sou verhuis.
Hulle was 1 Maart steeds op die plaas en het vir die Ernstzens gevra of hulle hulp kan kry met die trek na familie op Klapmuts.
Toe Joan en haar man, Trevor, De Water wou help met die trek, is hulle na bewering met klippe bestook en gevloek.
Volgens Joan is daar sedertdien permanent amok gemaak op die plaas, en het vreemdelinge na bewering die Ernstzens geïntimideer.
Uit vrees vir hul lewens het die Ernstzens ’n dringende aansoek gebring vir ’n uitsettingsbevel teen die De Waters. Dit is Donderdag uitgereik by die Paarl Landdroshof.
Volgens Ernstzen het sy vir hulle toestemming gegee om Paasnaweek op die plaas te bly en eers Dinsdag te trek.
Dinsdagoggend het die adjunk-balju die afsetting waargeneem en is De Water se besittings na die pad voor die plaas verskuif. Alles het rustig verloop tot aand.
’n Oproerige skare waaronder ANC-raadslede Dan Kotze en Frans Koopman, asook BAWSI-president Nosey Pieterse, het die aand op die plaas toegesak.
Houe - en klippe - is heen en weer geslinger. ’n Bewustelose Trevor Ernstzen is met ernstige gesigbeserings na die Paarl MediClinic geneem.
Kotze het vir ’n groot klip gekoes, wat toe dwarsdeur sy motor se ruit gebars het.
Die situasie is onder beheer gebring toe die polisie die skare uiteengejaag het.
Die polisie ondersoek tans klagtes van poging tot moord, aanranding en opsetlike saakbeskadiging.
* A Klein Drakenstein wine farmer was knocked unconcious during a brawl after the eviction of a labourer and his family.
More
News
|