Knellinge in landboubedryf
2005-05-19
KENNERS van die wyn- en vrugtebedrywe meen verskaffers begin al meer bewus word van die moeilike situasie waarin boere hulle bevind.
Hulle voorspel egter ook dat die wa binnekort deur die drif gaan wees. Hiervoor het die produsente self gesorg en kan die weerpatroon dinge aanhelp.
‘Gee ’n boer ’n lae prys vir sy produk en hy bedink ’n plan om goedkoper te produseer. Hulle het die laaste jaar of drie meer effektief geword deur die regte dinge te begin doen en meer doeltreffend deur die regte dinge korrek te doen - koste- en arbeidsgewys,’ som prof Daan Louw, besturende direkteur van Optimal Business Systems en raadgewer vir die Sagtevrugte Produsentetrust, dit op.
Hy is op die vooraand van vanjaar se Wynboere en Vrugtekwekers Expo (Wine Farmers & Fruit Growers Exhibition) in die Kaapse Internasionale Konvensiesentrum oor sy mening oor boerdery in die streek uitgevra.
Die skou is die grootste landbou-tegniese skou van sy aard in Afrika en word van 26 tot 18 Julie gehou.
Die klein druiwe-oes (wat ’n geraamde 888 miljoen liter sap gelewer het) was hoofsaaklik aan droë, of in sommige streke te nat, toestande te wyte en het veral die lewering van witwyn negatief beïnvloed, terwyl die rooiwyn-volume te danke aan jong wingerde wat toenemend in drag kom, min of meer dieselfde as verlede jaar s’n was.
In die vrugtesektor gaan die inkomste van die 2 500 kommersiële boere weens die buitelandse valuta-situasie in rand-terme 15% laer wees as ’n paar jaar terug en gaan die sagtevrug- en tafeldruifprodusente met ’n gekombineerde verlies van oor die R2 biljoen te kampe hê. Hy meen egter dat hulle redelik goed aangepas is om dit te oorleef.
‘Daar’s ’n lenige, soepel masjien aan’t ontwikkel om die teenstand in die buiteland af te breek. Die ouens wat neigings in die mark dopgehou het en geleidelik maar seker aangepas het - sonder paniekerige spronge of wysigings - maak nog geld en gaan binnekort stukke beter vaar. Ek voel die gunstiger tye is nader as wat ons dink. ‘Die regte idees, doelmatige toerusting en doeltreffender aanwending van arbeid is egter nie heeltemal genoeg nie en die landbou-sektor kort ’n hupstoot van regeringskant af. Ek dink hier veral aan ’n egaliger verhouding tussen winsgrense en insetkoste.
‘As boere weens die sterk rand minder vir hul uitvoere kry, verwag hulle om ooreenstemmend minder vir ingevoerde artikels betaal. Daar skort nog iets met daardie verhouding en die regering behoort ’n kommissie aan te stel om daarna te kyk.’
Hy wys ook daarop dat lone die afgelope tyd met gemiddeld meer as dubbel die inflasiekoers aangepas is.
WFFG-direkteur Sue Smith steun Louw se standpunte, maar wys daarop dat die 188 uitstallers, onder wie tientalle van oorsee, die knyptang waarin produsente hulle bevind goed verstaan en die pryse van hul produkte daarvolgens probeer skik. Produsente koop ook slimmer en maak van geleenthede soos die expo gebruik om pryse van toerusting en dienste te vergelyk.
Vanjaar se skou bied ’n oorsig van die nuutste en mees koste-doeltreffende wingerd- en boordimplemente, wynmaak-masjienerie en vate, bottelerings- en verpakkingstoerusting, verskepingsdienste en -tegnologie, beveiliging en inligtingstegnologie.
Onder die 188 uitstallers is sewe oorsese maatskappye wat vir die eerste keer hier kom sake doen.
More
News
|