Reaksie op die Vryheidsdagkaperjolle
2005-05-19
IN reaksie op die brief van Nelis Kruger in Paarl Post van 12 Mei onder die opskrif “Vryheidsdag-kaperjolle”, sê die skrywer hy het gesien hoe ‘n werktuigkundige (‘n ouer man) die inhoud van ‘n filter wat van ‘n dieselvoertuig afgehaal is, in die padgeut uitgooi.
Hy skryf verder dat dit gelyk het na olie, maar dat hy gesien het dat dit ‘n vuil swart vloeistof was. Hy het dit alles waargeneem terwyl hy gestaan en wag het vir sy kar om gewas te word by die betrokke garage waar hierdie insident sou plaasgevind het.
“Daardie werktuigkundige” was toe ek, ‘n oupa van ses kleinkinders en reeds 35 jaar in die motorbedryf.
Ek skryf nie om myself te verdedig nie, want ek het niks om te verdedig nie, maar ek skryf dit ter wille van die Paarl Post-lesers wat onder ‘n indruk gelaat is dat ons werktuigkundiges morsjorse is wat oor dieselfde kam geskeer word as hulle wat hul motors se olie op die Jan Phillips Bergpad laat uitloop of in die stormwaterpype laat beland.
Die genoemde dieselvoertuig wou nie verder loop nie, want die dieselfilter was verstop. Ons (die garage oorkant die pad) het nie so ‘n filter in voorraad gehad nie, waarop die kliënt besluit het om self een te gaan kry by Filterking en om die ou een saam te neem vir ‘n voorbeeld.
Die bietjie diesel wat toe nog in die filter oor was, het ek op ‘n oop stuk grond langs ‘n gestorwe, afgesaagde boomstomp, op ‘n bos dubbeltjiedorings gegooi.
Dit was toe nie in die padgeut gegooi soos wat die briefskrywer “gesien” het nie en dit was ook nie vuil swart olie nie.
Die bewyse is daar vir enigeen om te kom kyk.
As fietsryer kon ek net eenvoudig nie die versoeking weerstaan om ‘n dubbeltjiedoringbos uit te roei nie en die bietjie diesel het die ding gedoen. Hy’s nou goudgeel en morsdood!
Ek het my kinders geleer dat mens stadig moet wees om te praat, veral as jy nie seker is van jou feite nie! Niemand van ons is volmaak nie, kom ons verdra mekaar in liefde, as medeburgers van dieselfde, pragtige dorp.
Koos Swart
More
News
|