Ma red haar gesin
2007-04-19
’n VROU het die afgelope naweek haar eie lewe drie keer gewaag om haar geliefdes van ’n gewisse vlammedood te red.
Flora van der Ross (54) van die Keerwederpad vertel hoe sy en haar familie Vrydagaand na ’n gesellige aandete gaan slaap het.
“My seun, Daniel (21), en sy vriendin, Juanita Steyn (18), het egter vir nog ’n rukkie opgesit en gesels voordat hulle ook ’n bietjie later gaan slaap het.
“Ons het tans nie krag in die huis nie, want ’n koopkragboks is onlangs geïnstalleer, maar die kragpunte is steeds nie gekoppel nie.”
Wanneer Van der Ross aan dié noodlottige aand begin terugdink dan loop die trane vryelik oor haar wange: “Ek het omtrent 02:30 wakker geskrik met die klank van glas wat breek. Toe hoor ek die angswekkende gille vanuit my seun se kamer.
“My eerste gedagte was dat daar ’n aanval op ons huis is, maar toe ek die rook sien, het ek besef dat dit ’n brand is.”
Van der Ross vertel angstig hoe sy die reuse-vlamme binne haar seun se slaapkamer gesien het. Sy het vreesloos daardeur gehardloop, haar seun opgetel en na buite geneem.
“My man, Daniel snr, was toe ook wakker en hy het ons kleinkind, Danielle Steyn (2), na veiligheid geneem en gesus.
“Toe ek na buite kom met Daniel, het die velle van sy gesig gehang en ek het self blase op my arms en nek gehad.
“Maar ek het dit dadelik weer deur die vlamme gewaag om vir Juanita uit te dra.”
Van der Ross se nagmerrie was steeds nie verby nie, want haar geliefde aanneemkind, Jolene Moolman (9), was steeds in die vlammehel vasgekeer.
“Toe ek vir Jolene gaan red het, het al my hare van my kop afgeskroei. Maar dit het my nie gepla nie, want Daniel en Juanita is so erg beseer.
“Jolene het wonderbaarlik geen beserings opgedoen nie, maar sy ly steeds aan skok.”
Hulle is na die Paarl Hospitaal geneem, waar Daniel en Juanita steeds vir ernstige brandwonde behandel word, asook vog op die longe.
“Ek het nie ’n keuse gehad om te doen wat ek gedoen het nie. Ek moes eenvoudig my mense red.”
Van der Ross se dogter, wat langs die huis woon, het gesê dat sy vreesbevange moes toekyk hoe haar ma heen en weer tussen die vlamme hardloop.
“Die vlamme was so intensief dat ek nie eers na hulle kon kyk nie.
“Sy moes dié aand ’n engel op haar skouer gehad het, want al het sy drie mense uit die brandende huis gered, het sy eintlik min beserings opgedoen.”
Daar word vermoed dat die brand ontstaan het in Daniel se slaapkamer toe ’n brandende kers op die bedkassie omgeslaan het.
* A woman ran into a blazing house three times to save members of her family.
More
News
|