Kat los in die politieke duiwehok
2007-04-19
DIE kat is los in die duiwehok as dit kom by plaaslike politiek in Drakenstein.
Die lang verwagte mosie van die DA, OD, Vryheidsfront Plus en die ACDP sal vanmiddag om 14:00 voor ’n spesiale raadsvergadering dien.
Die uitslag behoort geen verrassings op te lewer nie: met 31 uit die 61 raadslede wat reeds hul hand op papier gesit het, is dit ’n voldonge feit dat die ANC se uitvoerende raadslede hul kantore moet ontruim.
Dit is dan ook nie waar die probleem lê nie, maar wel by die samestelling van die nuwe regeerders.
Gerugte wil dit hê dat sowel die Speaker as die onderburgemeester uit OD-geledere sal kom. Die ooglopende keuse was dan ook vir die huidige onderburgemeester, raadslid Matthys Nothnagel, om sy posisie te behou.
Dit is nou tot die mosie se inhoud bekend geword het. In die mosie word onder meer gevra dat die onderburgemeester van sy pos onthef word.
Onmiddellik het 'n paar hoopvolle kandidate nader gestaan en na verneem word, is daar heelwat geskarrel en planne gemaak.
Betroubare bronne sê Nothnagel sal waarskynlik sy posisie behou, maar die stryd vir die res van die posisies gaan onverpoosd voort.
Die ooglopende keuse vir burgemeester is raadslid Koos Louw, leier van die DA in die Raad.
Volgens die mosie wat ingedien is, geniet die ANC uitvoerende burgemeester (Charmaine Manuel) en burgemeesterskomitee in sy huidige samestelling nie meer die vertroue en steun van die meerderheid van Drakenstein se raadslede nie.
Die ANC (26 setels) het verlede jaar die Raad in die munisipale verkiesing gewen met die steun van die OD (10). ’n Party of groepering het 31 van die 61 sitplekke op die Raad nodig vir ’n volstrekte meerderheid. Die DA het 20 setels en die VF+ een.
* The Drakenstein Council meets today for a takeover bid by the DA and other parties.
More
News
|