ANC-raadslid in hof ná aanval
2007-04-19
DIE ANC-raadslid wat verlede week na bewering handgemeen geraak het met ’n plaaseienaar tydens ’n protes oor die afsetting van ’n werker, het gister in die hof verskyn op aanklag van ernstige aanranding.
Die klag spruit uit die gebeure van verlede Dinsdagaand, toe ’n oproerige skare gewapen met klippe en stokke op die plaas Le Fût op die Denneboompad in Klein Drakenstein toegesak het.
Tussen die ongeveer 50 oproeriges was ANC-raadslede Dan Kotze en Frans Koopman, asook BAWSI-president Nosey Pieterse.
Die persoon in die middel van die drama is plaaswerker Johannes de Water, wie se dienskontrak in Desember 2006 beëindig is weens dros.
Die eienaars van die plaas, Trevor en Joan Ernstzen, het ’n dringende aansoek gebring vir ’n uitsettingsbevel teen De Water.
Die uitsettingsbevel is kort voor die Paasnaweek deur die Paarl Landdroshof uitgereik, maar die Ernstzens het vir die De Waters kans gegee tot verlede Dinsdag om uit te trek.
Nadat die trek plaasgevind het in die teenwoordigheid van die balju, het oorlog egter die aand uitgebreek.
Volgens die Ernstzens was Kotze aan die voortou van die aanval en hy het vir Trevor bewusteloos geskop en geslaan.
Joan voer aan dat sy oortuig was dat hulle doodgemaak gaan word deur die skare. Terwyl haar man bewusteloos gelê het, het sy ’n klip deur die ruit van Kotze se blinkgroen Polo motor geslinger.
“Ek het dit gedoen in die hoop dat hulle die pad sou vat.”
Hierna is Joan self na bewering deur Kotze grond toe geslaan en verskeie kere geskop.
Die skare is uiteindelik uiteen toe die polisie op die toneel aangekom het, en Trevor is na die Paarl MediClinic geneem met ernstige gesigbeserings.
Volgens bronne het Kotze Dinsdag die polisie ontwyk toe hulle vir hom in hegtenis wou neem, maar hy het later die dag homself aan by die Paarl polisiestasie oorgegee in die teenwoordigheid van sy prokureur.
Hy het Woensdag in die Landdroshof verskyn en is op R500 borgtog vrygelaat.
* An ANC town councillor has been charged with assault of a wine farmer in Paarl.
More
News
|