Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Slagting

Slagting
 
2007-04-19


MEER as ’n half miljoen rand se lammers het Dinsdagoggend soos ’n bebloede tapyt versprei gelê oor ’n koringland naby Wellington.

Die tragedie het afgespeel op die plaas Watervlei van Johan Steyn, toe lammers en skape deur rondloperhonde as ‘speelgoed’ geteiken is.

Steyn vertel dat hy dié oggend oudergewoonte na die 60 hektaar kamp gegaan het om sy ongeveer 800 skape te voer.

“Dit is tans lamseisoen en talle van my skape het die afgelope maand reeds gelam.

“Toe ek by die kamp aankom, het ek ’n jong lam sien loop met bloed op sy gesig.

“My eerste gedagte was dat ’n kraai hom op die bek of oog gepik het, maar toe hy by sy ma kom, is dié se gesig ook vol bloed.

“Dit was asof iemand my hard teen die bors slaan toe ek al hoe meer bebloede lammers op die land sien lê.

“Van hulle was reeds dood, maar die meeste het nog gelewe. Tussen hulle was daar drie groot ooie wat ook in die slag gebly het.”

Terwyl Steyn die slagting probeer verwerk het, het hy drie honde gewaar wat onder ’n bos bloekombome gelê en knaag het aan ’n dooie skaap.

Hulle is dadelik van kant gemaak.

Dié honde het vermoedelik Maandagaand toegang tot Steyn se plaas gekry en begin amok maak onder die skape.

Die meeste van die slagoffers is slegs een maal gebyt, maar daar was geen kans op oorlewing vir dié klein lammers nie.

“Die honde se speeksel is soos gif vir die lammers en die beste was om vir hulle ’n genadedood toe te dien.”

Die lammers se kele is noodgedwonge afgesny en hulle is in ’n massagraf begrawe.

Uiteindelik het 100 lammers en drie groot skape in die slag gebly.

“Vir my as boer om so iets te moet aanskou, is hartverskeurend. Dit gaan nie oor die finansiële verlies nie, maar oor die nuttelose pyn en lyding wat aan my diere toegedien is.”

Steyn is geen vreemdeling met sulke voorvalle nie, maar nog nooit op so ’n groot skaal nie.

“Twee weke gelede het ek ’n paar skape verloor, ook weens rondloperhonde, maar ek het die eienaar van die honde opgespoor.
Ons het geskik dat hy my vir my verlies vergoed en die honde is ook van kant gemaak.

“Met die nuutste aanval het ek die honde-eienaars probeer opspoor met die hulp van die plaaswag, maar dit was tot dusver vrugteloos.”

* A farmer lost 100 lambs and three sheep to dog attacks in one night.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za