Jeugsentrum open deur
2007-04-25
DIE sentrum vir jeug- en familiebediening van Hugenote Kollege, Space, het onlangs sy deure in Pentzstraat op Wellington geopen.
Die sentrum staan bekend as Space, aangesien die naam die werkswyse van “ruimte maak” vir bedieninge en inisiatiewe wil verkoop.
Dit is ’n ekumeniese navorsings-, ontwikkelings- en dienssentrum van die Program Jeugwerk van die Hugenote Kollege wat diens lewer aan alle Christelike kerke en jeugorganisasies ten opsigte van jeug- en familiebedienings.
Die sentrum spits hom daarop toe om reaktiewe dienste aan gemeentes en instansies te lewer. Dit is dienste wat deur gemeentes of instansies versoek word en sluit onder meer kampe, eredienste, eendaggeleenthede, kursusse, praatjies/lesings, werkswinkels en fasilitering van jeugbedieninge in.
Daar sal ook gekyk word na pro-aktiewe dienste soos feeste, saamtrekke, kursusse, werkswinkels en forums.
Die sentrum is ook ingestel op navorsing en ontwikkeling. Dit sluit in die ontwikkeling van materiaal, kursusse, programme en modelle wat kan bydra tot die positiewe versterking van gemeentelike jeug- en familiestrukture.
Pastorale versorging is nog ’n been waarop die sentrum hom sal toespits. Dit behels die pastorale begeleiding van jongmense in krisis.
Die pastorale spreekkamer is elke Woensdag tussen 14:00 en 16:00 oop vir konsultasies teen ’n minimale fooi van R20.
Jongmense wat gekonfronteer word met groepsdruk, selfmoordneigings, depressie, dwelm -afhanklikheid, molestering en gesinsgeweld, kan die Space kantore skakel om sessies te bespreek.
’n Bronnesentrum rond die werkstruktuur van Space af wat daarop gemik is om as ondersteuningsnetwerk vir die jeug en gemeentes te dien.
Vir meer besonderhede, kontak Gielie Loubser (sentrumdirekteur) of André Smith (koördineerder) by tel 021-873-2736 of faks 086-603-3354.
Die sentrum kan ook bereik word by e-pos space@ hugenote.co.za of webtuiste www.youth space. co.za.
More
News
|