Belhar gans te lig vir Albions
2005-05-19
DIT was Saterdag die beurt van Belhar om voor die sterk aanslag van Albions Rugbyklub te swig.
Die Paarliete het in die wegwedstryd die tuisspan 34-14 geklop en so ook ’n bonuspunt ingesamel.
Danksy ’n sterk wind wat in hul blaaie gewaai het, het Albions vroeg al punte op die bord gesit toe Dominic Daniels (skrumskakel) met ’n strafskop slaag.
Die besoekers het die tuisspan telkens onder druk gehad en ná ’n vyf-meter-skrum is dit Morné Goetham (agsteman) wat die bal optel en langs die pale druk. Daniels verdoel en Albions loop 10-0 voor.
Belhar val verwoed aan, maar ’n onderskepping deur Daniels en sy gevolglike drie ná ’n lopie van meer as 40m verseker dat die besoekers hul voorsprong na 15-0 vergroot.
Die drie van die dag is gedruk toe Roger Uren (binnesenter) die lyn breek en sy sentermaat, Ju-Wayne Cyster, wegstuur om te druk. Albions het oorheers in die vaste fasette met Goetham wat baie van Belhar se lynstaanballe afgerokkel het.
’n Verdere twee drieë deur Jenovan Cornelissen (flank) en Christopher September (vleuel) gedruk en twee doelskoppe deur Daniels bring die rustydtelling op 34-0.
In die tweede helfte het die tuisspan darem teruggekom deur twee drieë te druk, maar die besoekers se voorsprong was te veel om in te haal.
Ashley Manuel (heelagter) het ook ’n goeie wedstryd gespeel, maar die speler van die wedstryd was Morné Goetham.
Albions II en III het 10-7 en 24-10 gewen.
Hulle speel Saterdag tuis teen Young Peoples op Daljosafat Stadion.
More
News
|