Visier op mooiste sakeperseel
2007-04-25
IN hul poging om sake-eienaars aan te moedig om hul persele te verfraai en om die nodige erkenning te gee aan dié wat dit reeds doen, is die komiteelede van die Wellingtonse Verfraaiingskomitee besig met evaluering van persele.
Die Verfraaiingskomitee het as ‘n sub-komitee van die destydse Toerismeburo ontstaan.
Deesdae funksioneer dit selfstandig in samewerking met die Parke-afdeling van die Drakenstein Munisipaliteit en die Sakekamer om verfraaiing van sakepersele te bevorder.
Die gedagte is dat dit net soveel makliker is om ‘n mooi en goedversorgde dorp te bemark, en dit sluit in die sake- en nywerheidskern waar die oorsese besoekers en sake-vennote kom. Die komitee se missie is om Wellington ‘n goedversorgde, boomryke en aantreklike dorp te maak vir al sy inwoners.
Hulle bied die jaarlikse boomplantgeleentheid aan tydens Boomplantweek in September. Alle organisasies, instansies, skole en ander belangstellendes word uitgenooi na die geleentheid, waar almal welkom is om ook ‘n boom te plant.
Sedert 2001 is bome reeds aangeplant in Champagnestraat, Stokeryweg, Fonteinstraat, die DBV-terrein, voor Lux Verbi BM in Kerkstraat en in Kerkstraat aan die Bainskloof-uitgang.
Hulle bied ook toekennings aan vir die mooiste sakeperseel om erkenning te gee aan sakepersone vir hul pogings om hul sakepersele goed te versorg.
Dit is nie ‘n kompetisie nie, maar mense is welkom om hulle te laat weet van lofwaardige sakepersele. Ondernemings word deurlopend deur die loop van die jaar evalueer met die finale evaluering in September.
Daar is wisseltrofeë vir die sakeperseel en onthaalperseel wat die meeste beïndruk het (groot en klein).
‘n Nuwe kategorie is onlangs bygevoeg. ’n Toekenning word gemaak aan private individue wat in die historiese deel van Wellington hul eiendom sinvol gerestoureer het of ’n nuwe gebou in gepaste styl opgerig het.
Die kriteria is eerste indrukke (algehele netheid; geheelindruk van gebou en terrein), geboue: skoon en netjies; boustyl en afwerking, Terrein: gehalte en netheid; omheinings, plantegroei, plaveisel, paadjies, beddings, grasperke, spesiale fokuspunte.
Vorige wisseltrofee-wenners is Distel, Windmeul Hersteldienste, Oasis Padstal (nou Vercelli), DGB, Provence en Diemersfontein. ‘n Splinternuwe en opwindende projek is die aanneem van openbare ruimtes.
‘n Aantal prominente terreine is in Wellington geïdentifiseer wat sakeondernemings, organisasies en individue kan aanneem vir ten minste ‘n jaar. Sodoende kry die onderneming waardevolle blootstelling deur ‘n bord op die terrein, die Munisipaliteit word ondersteun wat ‘n tekort het aan mannekrag en tyd en die dorp vind baat by ‘n mooi terrein.
Vir navrae, kontak voorsitter Eugenie Wiggins (voorsitter) by 021-873-1152 of 083-308-8492 of herbizkit@ yahoo.co.uk
More
News
|