Landskap geskend teen Paarlberg
2007-04-25
AS inwoner van Courtrai is ek erg beswaard en besorgd oor die verwoesting van die dennewoud teen Paarlberg op die eiendom van die Taalmonument.
Die strook lê tussen die huise en die Taalmonumentpad en is na raming minstens ’n honderd jaar oud. Nou is dit skielik ’n brandgevaar.
Die woud skep ’n welkome groen soom wat plesier bring aan diereliefhebbers en bergfietsers. Dis ’n koel en rustige gebied vir stap.
’n Mens sal dink die organisasie sal eko-sensitief wees, maar daar word slegs uitvoering gegee aan die ministeriële opdrag dat alle uitheemse bome verwoes en uitgepluk moet word.
Word daar hoegenaamd na ekosisteme gekyk? Ons is ’n arm land as dit by groen aanplanting en sensitiwiteit teenoor die natuur kom.
Bome versier jou omgewing en verryk die mens se siel. Sonder bome is daar geen lewe nie. Daar moet nou iets gedoen word, voor die Paarl nog ’n Papegaaiberg word.
Frank Meaker
Jack Louw, direkteur van die Taalmuseum, reageer: Reeds so ver terug as 1999 het ons ’n versoek van die Munisipale Brandweerdiens ontvang om ’n brandpad tussen die Monumentgrond en Courtrai te maak.
Intussen het ons toestemming van die eienaar van die grond, Departement van Openbare Werke, asook die Munisipaliteit van Drakenstein verkry om ’n strook bome teen die grens met Courtrai, te verwyder.
Die skoonmaak-operasie het ten doel om slegs ’n strook van 20 meter vanaf Courtrai se grens skoon te maak as brandpad.
Terselfdertyd sal die verwydering van die uitheemse dennebome meer ruimte bied vir die vestiging van inheemse plantegroei.
Wandelpaadjies sal nog steeds gebruik word terwyl die bykomende brandbaan nuwe verkenningstogte na voorheen digbegroeide areas tot gevolg kan hê.
Met die huidige brandwetgewing, waarvolgens die eienaar verantwoordelik is vir brandskade aan aangrensende gebiede sou die vuur op sy grond ontstaan het, moet die nodige maatreëls getref word – spyt kom altyd te laat.
Ons is terdeë bewus van die eko-stelsels in die woud en gaan met groot omsigtigheid te werk om skade tot die minimum te beperk.
Ons wil die inwoners van Courtrai wat bekommerd is, verseker dat die dennewoud vir ons by die Afrikaanse Taalmuseum en –monument ook dieselfde bekoring inhou.
More
News
|