Bishop Lavis knak Violets
2007-04-25
DIE eerste span van Violets Rugbyklub het die afgelope naweek by Daljosafat-stadion vasgeval in die tweede ronde van die Eerste Divisie (WP) teen Bishop Lavis nadat die besoekers hulle met 23-21 geklop het.
“Ons is dié week teruggebring aarde toe,” het die spanbestuurder van Violets, David Adams, ná die wedstryd gesê.
“Die ouens het lusteloos, doelloos en planloos gespeel.
"Hulle koppe het geswel ná verlede week se oorwinning teen Young Ideas Rugbyklub.”
Violets het voorverlede naweek tydens die openingswedstryd van die liga oor Young Ideas met 20-17 geseëvier.
Die kragmeting teen Bishop Lavis was ’n taai affêre en Violets het tot in die laaste minuut probeer om die wedstryd te beklink.
Gerswin Mouton, Granville September en Makkie Heyns het elkeen ’n drie vir Violets gedruk met Ashley Raubenheimer wat met ’n doel- en strafskop geslaag het.
Die tweede en derde spanne van Violets het beter gevaar en Bishop Lavis onderskeidelik met 17-3 en 20-5 geklop.
* Violets speel Vrydag ’n wegwedstryd teen Busy Bees Rugbyklub. Die bus vertrek om 17:00 vanaf Groenheuwel.
More
News
|