Atlete gaan op safari
2007-04-25
Jacques Rossouw
SOWAT 5500 atlete gaan Dinsdag (Werkersdag) aantree vir die twintigste Safari half-marathon wat op Wellington gaan plaasvind.
Met die wedloop wat vanjaar twee dekades oud is, word daar styf duim vasgehou dat hierdie jaar se wenner ’n plaaslike atleet sal wees.
Neo Molema (Mr Price) was verlede jaar die algehele wenner in ’n tyd van 1:06.58 terwyl Ricardo Jakobs van Wellington Atletiekklub die vierde plek, drie minute stadiger as Molema, behaal het.
Die eerste vrou oor die wenstreep was Thozama April (MP Celt) met ’n tyd van 1:25.08.
Soos in die verlede word daar buiten die half-marathon ook ’n 5km pretloop en 10km stap aangebied.
Die half-marathon begin Dinsdagoggend om 07:15 in Willem Bassonweg (langs Boland-stadion) terwyl die pretloop ’n paar minute vroeër (07:00) in Blouvleiweg wegspring.
Diegene wat aan die stap deelneem, begin 09:45 in Generaal Hertzog Boulevard.
Hierdie jaar is daar ook ’n kontantprys van R10 000 op die spel vir die eerste man of vrou wat die wedloop in ’n rekordtyd voltooi.
Die rekord in die mansafdeling is 1:03.06, wat deur Xolile Yawa in 1988 opgestel is. Die damesrekord van 1:13.46 behoort aan Elana Meyer en staan sedert 1993.
Goue medaljes gaan aan die eerste ses mans- en damesatlete oorhandig word. Die afsnytyd vir silwer medaljes is 90 minute terwyl alle atlete wat die wedloop suksesvol binne die vasgestelde tyd (teen 11:15 die oggend) voltooi bronsmedaljes sal ontvang.
More
News
|