Optog oor vermoorde
2007-05-03
ONTEVREDE familielede en vriende van ’n vermoorde jong man het gister voor die Paarl Streekshof betoog teen die sogenaamde ‘sagte behandeling van die vermeende moordenaar’.
Die optog spruit uit die moord op Azhar Knight (21) in Oktober verlede jaar.
Dié noodlottige aand het Knight en die verdagte, Kyle Jenecke, na bewering voor Jenecke se ouerhuis in Mont Roselaan, Charleston Hill, oor ’n meisie gestry.
Die meisie waaroor die stryery gegaan het, Bronwyn Wiese (16), het voorheen met Knight uitgegaan, maar sy het die verhouding beëindig en ’n vriendskap aangeknoop met Jenecke.
Wiese het na die voorval vertel dat sy ’n stryery buite die huis gehoor het, waarna Jenecke in die huis ingekom het met ’n skeur aan sy oor en bloed aan sy gesig.
Knight is glo buite die huis aangeval met ’n mes en het oppad hospitaal toe gesterf.
Jenecke, wat 17 jaar oud was tydens die voorval, is in hegtenis geneem, maar is kort daarna in die sorg van sy ouers vrygelaat.
Gigi Knight, Azhar se ma, het gesê dat terwyl die verdagte tans vry rondloop, is hulle hele familie steeds in rou gedompel.
“Azhar se tweejarige dogtertjie soek steeds vir haar pa en ons kan nog nie die feit aanvaar dat ons geliefde seun so wreedaardig vermoor is nie.”
* Relatives of a murder victim have demonstrated outside court against the accused being out on bail.
More
News
|