SA kleure vir Boland ryers
2007-05-03
Jacques Rossouw
DRIE o.16 fietsryers van die Boland, Clint Hendricks, Brandon Christians (altwee van Rhadsport Fietsryklub) en Avery Arendse (Yorkshire Fietsryklub), het die afgelope naweek tydens die SA Baanfietsry Kampioenskap in Johannesburg hul nasionale kleure verwerf.
Hendricks is onder andere aangewys as die beste o.16 ryer van die kampioenskap en het in die 1500m item ’n goue medalje verower.
Hy het ook met die hoog-aangeskrewe Johan van Zyl (Westelike Provinsie) in ’n spannende enkel-agtervolgingwedren afgereken.
Tydens die tydtoets en puntewedren het Hendricks ’n tweede plek behaal, terwyl hy gedurende die naelry ’n bronsmedalje ontvang het.
Hendricks het ook saam met sy klubmaats Christians, Arendse en Aybré Hardine saamgespan om ’n silwermedalje in die span-agtervolging item te ontvang.
Christians het in die tydtoets ’n bronsmedalje gewen, terwyl Arendse in die tweede plek ná Hendricks in die 1500m geëindig het.
Nolan Hoffman en Garth Thomas (Rhadsport) het tydens die byeenkoms bewys dat hulle onder die voorste baanryers in Suid-Afrika val.
Hierdie twee ryers het die Madison titel oor 50km met groot gemak gewen deurdat hulle tien punte voor hul naaste teenstanders, Gaddy Chait en Martin van Wyk (Sentraal-Gauteng) klaargemaak het. Thomas het verlede jaar dié titel saam met beroepsryer Chris Willemse gewen.
Hoffman het verder ook in die puntewedren ’n goue medalje ingepalm.
Natasha Marang (Yorkshire) het in die junior vroue afdeling silwer medaljes ontvang in die tydtoets en enkel-agtervolging, asook ’n bronsmedaljes in die 1500m en naelry.
Die o.12 ryer Graham Ockhuis (Yorkshire) het twee tweede plekke behaal in die 1500m en 500m tydtoets, asook ’n derde plek in die 3km item.
Boland het altesaam 19 medaljes tydens die kampioenskap gewen.
* Twee plaaslike fietsryers het ook by dié geleentheid die geskiedenisboeke herskryf. Joswill Davids en Dugald Davids is die eerste Newton-ryers in 50 jaar wat aan die SA Kampioenskap deelgeneem het. Japie Jennicke was die laaste Newtonner wat gedurende die 1950’s by die SA’s gery het.
More
News
|