Beroepe vir wetenskaplikes
2007-05-03
STAAN jou skooljare nou einde se kant toe, maar krap jy nog bietjie kop tussen ‘n loopbaan as laserfisikus, ‘n mikrobioloog of ‘n wetenskaponderwyser?
Of wil jy eerder werk in ‘n laboratorium vir plantbiotegnoloë, tekstielwetenskaplikes of analitiese chemici wat nuwe stowwe ontwikkel? Skryf dan in vir die Fakulteit Natuurwetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch se gewilde Natuurwetenskappe Winterweek.
Die Winterweek word van 1 tot 5 Julie aangebied op Stellenbosch vir graad 11 en 12 leerders wat belang stel in ‘n beroep in die natuurwetenskappe. Dié week gee jou kans om eerstehands meer uit te vind oor die verskillende studierigtings en beroepsopsies wat op die Matie-kampus vir jou wag.
Dit sal jou help om ‘n keuse te maak uit die verskillende programme en studierigtings wat beskikbaar is, en jou ook blootstel aan ‘n paar beroepe wat nie so algemeen bekend is nie.
Verskillende departemente word besoek, waar jy met die vakdissiplines sal kennis maak en met dosente kan gesels oor fisiologiese wetenskappe, biochemie, mikrobiologie, chemie, fisika, wiskunde, rekenaarwetenskap, toegepaste wiskunde, geologie en wat plant- en dierkunde aanbied. Jy ontvang ook voorligting oor die moontlike studieprogramme en beroepsmoontlikhede.
Daarby is daar ook heelwat informele uitstappies en aktiwiteite wat die natuurwetenskappe as tema het. Kry jou aansoekvorm by www.sun.ac.za/science voor 18 Mei. Koste beloop R875 en sluit akkommodasie, maaltye en uitstappies in. Navrae, kontak Mariétta van den Worm by tel 021-808-3760,faks021-808-3680ofe-pos mvdworm @sun.ac.za.
More
News
|