Kase kry hoogste lof
2007-05-03
TWEE Paarlse kaasprodusente het uitgeblink by vanjaar se SA Suiwelkampioenskappe wat onlangs op Stellenbosch gehou is.
Fairview het met agt SA Kampioene geskitter. Die uitblinker-produkte is Fairview Roydon Camembert, Bleu & Blanc Camembert, Brie, roomkaas met heuning en dukha, Yehudit, Pont L’eveque (vir Woolworths), bokmelk Camembert en bokmelk bloukaas.
Hul bokmelk Camembert is boonop met ‘n Qualité-toekenning beloon vir hoë gehalte. Dalewood Fromage se Winelands Brie with Cape Chilli is as SA Kampioen bekroon.
Die SA Suiwelproduk van die jaar is ‘n ronde Gouda van Clover, wat ook Qualité-toekennings gewen het vir laevet krummel maaskaas en korslose Gouda sowel as sewe SA Kampioene.
Die SA Suiwelkampioenskappe, wat jaarliks deur Agri-Expo aangebied word, het vanjaar 683 inskrywings gelok, waarvan 68 aangewys is as SA Kampioene en 17 met die bedryf se hoogste gehaltemerk, ’n Qualité, vereer is.
Parmalat het vanjaar vir die vierde agtereenvolgende keer, die meeste toekennings losgeslaan met vyf Qualité- toekennings en 17 SA Kampioene.
Die produkte wat Qualité eer aan Parmalat besorg het, is vetvrye gladde maaskaas, vanielje roomys, beleë Gouda, beleë Cheddar en Chesso semi-harde kaas.
Twee boetiekkaasmakerye wat groter produsente in hul klas uitgestof het om elk met ’n Qualité-toekenning te spog, is Belnori Boutique Cheesery van Petit in Gauteng vir bokmelk Feta met Griekse kruie en Klein River Cheese van Stanford vir Gruyère. Ander produsente benewens Fairview se bokmelk Camembert wat met Qualité-toekennings skitter, is Lancewood Cheese in George (2), Luritzio’s in Durbanville (2), C Cremona & Sons in Krugersdorp (1), Fairfield Dairy in Howick (1).
Die kase was te proe by die Kaasfees.
More
News
|