Erfgoed word afgebreek
2007-05-10
BOUWERK aan die opstal en buitegeboue op die historiese plaas Helena in Daljosafat is hierdie week deur die Drakenstein Munisipaliteit se Erfenisbeampte stopgesit.
Volgens Len Raymond, plaaslike bewaringspesialis, is dit “onwettige werk” wat gedoen word en kan die eienaar krimineel vervolg word.
Die veranderings word aangebring aan die opstal nadat die plaas onlangs deur ’n makelaar van Pretoria, Buddy Smit, van Gawie Malherbe gekoop is.
“Daar is geen planne by die Munisipaliteit ingedien nie, en ook is daar nie vir ’n permit aansoek gedoen by die munisipale estetiese komitee, die Erfenisvereniging van Drakenstein of die Wes-Kaap nie,” het ’n ontstoke Raymond gesê.
Die plaas vorm ’n integrale deel van die geskiedkundig-sensitiewe Daljosafat gebied, en is aanliggend aan Kleinbosch.
Ná inligting oor die herbouing ontvang is, is die bouery Dinsdag deur Chantelle de Kock, Drakensteinse erfenisbeampte, gestop.
Waardevolle balke is reeds uit die buitegebou se plafon gehaal en die mure is hoër gebou om in ’n twee verdieping gebou met dakvensters onder ’n golwende strooidak verander te word.
Die Victoriaanse veranda met broekie-kant is van die opstal verwyder.
Op navraag wou Smit hierdie week geen kommentaar lewer nie, ook nie op die vraag of hy insette van ’n kundige argitek gehad het nie.
Volgens Raymond mag geskiedkundige geboue nie verander word voordat daar ’n studie gedoen word en ’n permit van die Wes-Kaapse Erfenisowerhede gekry word nie.
“Hoewel die gebak se rietdak in die 1800’s vervang is met sink en die toevoegin van die Victoriaanse gietysterveranda het die geelhoutplafonne deurentyd behoue gebly.
“Die huis soos dit gestaan het, het die ontwikkeling van die argitektuur deur die jare weerspieël.
“Daljosafat is ’n area waar jy nie mors nie, en nou het hierdie man ingespring en dit kom doen.”
Daar word voorsiening gemaak in die wet dat die verbouings reggestel moet word op die eienaar se koste. Die eienaar kan ’n boete en tronkstraf ontvang.
“Sulke mense doen ontsettend groot skade. Hulle koop grond in die Boland, onderverdeel dit en bou gastehuise. “Hulle besef nie dat dit wat hulle hierna toe trek, juis dit is wat hulle vernietig nie,” sê Raymond.
* Radical alterations to an historic farmstead outside Paarl have been forced to a halt.
More
News
|