Nuwe geriewe by opleidingsentrum
2005-05-26
‘n DROOM wat verwesenlik is. So noem die mense van die Wamakersvallei Opleidingsentrum hul eie siekekamer en kleutersorgklas wat pas in gebruik geneem is.
Die geriewe is moontlik gemaak deur ‘n ruim skenking verlede jaar van die Nasionale Lotteryfonds van R382 000. Dit is ingerig in twee motorhuise wat agter die Wamakersvallei se huidige tuiste in die Breytenbach Sentrum staan.
Die siekekamer, met sy hospitaalbed en ander geriewe, sal onder meer gebruik word vir die praktiese opleiding van studente in die hantering en versorging van verswakte of bedlêende persone.
‘n Spesiale byvoeging is ‘n reuse-muurbehangsel met ‘n bergtoneel wat geverf is deur Estelle Botha van Wellington. Dit verleen ‘n besonderse atmosfeer aan die kamer en wys hoe “die ideale siekeboeg” kan lyk, vertel Iréne de Waal van die Sentrum.
Kleuters
Kleutersorgstudente baat weer uit die goedingerigte kleuterskoolklassie, wat onder meer ingerig is met gekleurde kindertafels en stoele, waar hulle praktiese ervaring kan kry in die versorging en onderrig van jong kinders.
Volgens De Waal het die skenking dit ook moontlik gemaak om ‘n yskas, breekgoed en ‘n stoof aan te koop wat waardevol is vir praktiese demonstrasies in die huisbestuurskursus.
Wamakersvallei Opleidingsentrum het onlangs hul prysuitdeling gehou, waar 62 studente sertifikate ontvang het vir die suksesvolle voltooiing van hul kursusse. ‘n Nuwe inname van 82 studente begin saam met die nuwe skoolkwartaal by die sentrum.
De Waal het lede van die gemeenskap uitgenooi om gerus te kom kyk watter werk daar gedoen word, asook na die pragtige nuwe geriewe wearmee hulle spog.
More
News
|