Leer meer oor mediaverklarings
2007-05-10
SKRYFWERK vir Skakelwese II: Mediaverklarings, die tweede slypskool in die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum se reeks oor skakelwese-skryfwerk, word op 15 Junie aangebied. Die Taalsentrum bied hierdie intensiewe slypskool spesifiek aan vir skakelbeamptes en persone wat reeds ondervinding het in die skryf van mediaverklarings, en die fokus sal streng wees op die skryf en versorging van ’n mediaverklaring.
Elke deelnemer moet vooraf twee voorbeelde van sy/haar eie mediaverklarings verskaf, wat tydens die slypskool bespreek en verbeter sal word.
Daar is slegs plek vir agt deelnemers, en ’n inleidende sessie oor die skryf van media-artikels (‘features’) is deel van die program. Bywoning van Skryfwerk vir Skakelwese I: Algemeen is nie ’n voorvereiste nie.
Dawid Botha, ’n onafhanklike kommunikasie-konsultant wat reeds vier jaar betrokke is by die aanbieding van hierdie slypskool, sal die slypskool fasiliteer. Lizette Rabe, hoof van die Universiteit Stellenbosch se nagraadse departement Joernalistiek, sal ’n gasaanbieder wees.
Dit kos R1850 om in te skryf, en die sluitingsdatum is 25 Mei. Alhoewel die voertaal Engels is, volg die Taalsentrum ’n taalvriendelike benadering en deelnemers is welkom om in Afrikaans te kommunikeer.
Besoek die Taalsentrum se webwerf (www.sun.ac.za/taalsentrum/EVD) vir volledige inligting en ’n inskrywingsvorm, of kontak Maretha Joyce by tel 021-808-2167 of mjoyce@sun.ac.za.
Let wel: Die derde slypskool in die reeks, Skryfwerk vir Skakelwese III: Media-artikels, word op 29 Augustus aangebied.
More
News
|