Nuwe huisprojek stel voorbeeld
2007-05-10
DIE nuwe woonbuurt van 78 huise vir werknemers van die Rupert-familie, Dennegeur, is vandeesweek amptelik op Franschhoek geopen.
Johann Rupert en sy suster Hanneli Koegelenberg (Rupert) het Maandagaand ‘n amptelike verwelkomingsfunksie gehou vir die Dennegeur gemeenskap.
Die sekuriteitswoongebied is gebou vir die werkers van die plase La Motte, Fredericksburg en L’Ormarins, wat die pragtige, nuwe huise sedert November bewoon.
Die Dennegeur gemeenskapinisiatief bied werkers die geleentheid om na ‘n tyd van 20 jaar diens op die plaas hul huise, wat spesiaal vir die onderskeie gesinne gebou is, te besit.
Dié projek in Franschhoek is daarop gemik om werkers op die drie gekiedkundige plase ‘n daadwerklike belang by plaasbedrywighede te gee.
Die gemeenskapsmodel is hoofsaaklik daarop gemik om aan plaaswerkers die geleentheid te gee om hul eie huise ná ‘n tydperk te bekom.
Benewens die huise is daar ook ‘n gemeenskapsentrum, ‘n dagsorgsentrum vir voorskoolse kinders, ‘n kliniek en ontspanningsgeriewe (wat ‘n swembad en ‘n rugbyveld insluit) gebou. Die struktuur van die huise is van so ‘n aard dat ‘n buitegebou maklik aangebou kan word sodat ouma en oupa steeds by hul kinders kan woon. Sodoende word hegte familie-bande aangemoedig.
Volgens Johann Rupert, eienaar van L’Ormarins, gaan die jare se beplanning wat die projek voorafgegaan het, ‘n daadwerklike invloed op die lewens van die plaaswerkers hê.
“Dit is reeds ‘n aantal jare ons mikpunt om ‘n projek te vestig wat daarop gemik is om uiteindelik die mense wie se families wat reeds dekades in die Franschhoek-vallei woon en werk, ‘n aandeel in die omgewing te gee.
“Die Dennegeur gemeenskap is geskep om die werkers in staat te stel om meer aktief by plaasbedrywighede betrokke te raak. Dit is hopelik ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens te werk gaan om bemagtiging te laat werk,” aldus Rupert.
Die Dennegeur gemeenskap behels ook ‘n volhoubare plaasprojek waarvolgens die werkers by die verbouing van organiese groente betrek sal word om sodoende meer kontant aan hulle te besorg.
Die projek maak geensins staat op wingerdbou nie, aangesien dit te lank neem om winsgewend te word. Die essensiële plant-olies wat alreeds deur die gemeenskap vervaardig word, het verseker dat die projek reeds verskeie toekennings ontvang het.
Hanneli Koegelenberg, suster van Johann, voeg by dat die Dennegeur gemeenskap reeds groot ondersteuning en trots onder plaaslike inwoners geniet.
“Dit is noodsaaklik dat die werkers elke dag opstaan met die besef dat hul arbeid tot eienaarskap kan lei.
“Dit skep ‘n uiters positiewe atmosfeer op die drie plase en ek stem saam dat die projek as ‘n voorbeeld vir ander kan dien,” sê sy.
* A new community housing project for farmworkers employed on Rupert farms was officially launched this week in Franschhoek.
More
News
|