Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Afvaardiging na Europa

Afvaardiging na Europa
 
2007-05-10


DIE bekende oud-Springbok Schalk Burger (senior) en die nuwe uitvoerende burgemeester van Drakenstein, Koos Louw, het verlede week verskeie bottels wyn geteken wat as geskenke uitgedeel gaan word in Duitsland, Switserland en Engeland deur vier verteenwoordigers van Drakenstein Munisipaliteit.

Hulle gaan hierdie lande besoek vir die volgende twee weke om ondervinding op te doen wat toegepas kan word in die plaaslike sokkerbod.

Volgens Theo Koopman, koördineerder van die sokkerbodkomitee van Drakenstein, is dit ‘n amptelike skenking van Burger se wynplaas Welbedacht buite Wellington.

Die afvaardiging bestaande uit dr Sidima Kabanyane (munisipale bestuurder), Wilhelm Nothnagel (onderburgemeester), Khaya Mrali (hoof korporatiewe dienste) en Theo Koopman het Maandag vertrek na Europa om ondersoek in te stel na basiskampe vir ‘n sokkerbod.

David Delaney, hoof van beplanning, sal ‘n week later by hulle aansluit om die tegniese aspekte van ‘n basiskamp te ondersoek, na aanleiding van die munisipaliteit se bod om gasheer te wees vir ‘n span tydens die 2010 Fifa Węreldbeker.

Koopman het aangevoer dat Drakenstein se visier op Engeland is omdat hierdie land een van die top spanne in die węreldbeker sal wees.

“Die Britte dra ook meer kennis oor hierdie omgewing. Hulle ondersteuningspan is baie groot en hulle spelers word meer bemark as ander lande se spelers.

“Daar is ook ‘n sterk verbintenis tussen Engeland en Suid-Afrika omdat baie Suid-Afrikaanse sokkerspelers al vir Engelse klubs gespeel het. Dit maak hulle dus ‘n goeie span om voor gasheer te wees,” aldus Koopman.

Louw het by die eerste burgemeesterskomiteevergadering onder sy leiding verlede week dit sterk beklemtoon dat dit nie nodig is vir ses mense om Europa toe te gaan om te kyk hoe ‘n basiskamp aangepak word nie.

“Ek stel voor ons stuur net drie mense om koste te besnoei.”
Aanvanklik sou daar ses verteenwoordigers van die Drakenstein Munisipaliteit Duitsland toe gaan om te sien hoe ‘n basiskamp werk, insluitend raadslid Arthob Petersen (voorsitter van die oorspronklike bodkomitee toe die ANC die stadsraad beheer het).

Raadslid Johan Visser het sy misnoeë uitgespreek oor die feit dat hy in die pers moes verneem van die stadsraad se basiskampbod.
“Hierdie reis Duitsland toe is nie met alle raadslede bespreek nie. Hierdie bod fokus op Paarl en sluit in elk geval nie vir Wellington, Hermon, Gouda of Saron in nie, dus kan ek nie die bod ondersteun nie” het ‘n ontevrede Visser die vergadering meegedeel.

Die burgemeester het hom egter daarop gewys dat die 2010 bod nou al lank aankom.

“Die bod gaan onder die naam Paarl, omdat die mense in die buiteland nie weet van Drakenstein nie.

“Dit gaan oor bemarking - Paarl is al klaar ‘n handelsmerk in die buiteland. Ons moenie toelaat dat die naam ‘n goeie ding laat skipbreuk ly nie.

“Dit beteken nie dat die ander plekke soos Wellington uitgesluit is nie. Hierdie hele kwessie is op verskeie vlakke bespreek,” het Louw verduidelik.

Hy het voorgestel dat daar met die Wellingtonse raadslede vergader word om hierdie aangeleentheid te bespreek.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za