Kaasfees nie gulsig
2007-05-10
VIR enige individu of organisasie om van gulsigheid beskuldig te word, is onverantwoordelik en ‘n besliste klad op sy naam (Hoorsê, Paarl Post, 3 Mei).
Vanjaar is die SA Kaasfees vir die 6de keer deur Agri-Expo (‘n nie-winsgewende organisasie) op Bien Donné gehou. Weens die ongekende belangstelling in die SA Kaasfees is daar reeds vir die afgelope drie jaar slegs ‘n beperkte aantal feesgangers op die feesterrein toegelaat.
Ek is onbewus van nog ‘n buitelugfees in Suid-Afrika, wat getalle beperk, sodat die feesgangers ‘n aangename ervaring kan hê. Die tendens van organiseerders om soveel moontlik mense toe te laat om die “somme te laat klop” kan definitief nie voor Agri-Expo se deur geplaas word nie, anders sou ons nie “duisende mense by die hek laat omdraai” nie!
Om te verseker dat die kaasliefhebber toegang tot die 2007 SA Kaasfees sou verkry is die publiek aangeraai om vooraf kaartjies by Computicket te koop.
Na die sluiting van die hekke om 12 uur op Saterdag en 12:30 op Sondag is alle persone met voorafgekoopte kaartjies toegelaat om die feesterrein binne te gaan.
Om ‘n infrastruktuur van die omvang van hierdie fees op te rig, bring die uitgawe-komponent van die SA Kaasfees op net meer as R2 miljoen te staan!
Indien daar egter wins is, word dit teruggeploeg in suiwelverwante aktiwiteite, soos die Franse Kaasmakersbeursprojek, waar daar jaarliks vier kaasmakers na Frankryk gestuur word, die SA Suiwelkampioenskappe, bemarking van die Qualité embleem vir Suiwelprodukte van hoogstaande gehalte of konsultasies na kaasmakerye.
Johan Ehlers (Agri-Expo)
More
News
|