Sersant sterf
2007-05-17
DIE geleentheid om sy karige polisiesalaris aan te vul het verlede week die skietdood van ‘n gewilde Paarlse polisieman en pa van twee jong seuns beteken.
Toe die oproep verlede Donderdagaand kom dat bystand teen vergoeding nodig is vir broodaflewering, het sers André‚ Nothnagel (35) nie gehuiwer nie.
Saam met sy vriend, Niel Lotz, is hy na Guguletu om ‘n brood-lorrie te begelei tydens ‘n aflewering. Hul hulp is ingeroep weens ‘n staking van Blue Ribbon werkers.
Lotz vertel dat hulle in Nothnagel se blou Uno ‘n ent van die vragmotor langs die pad geparkeer het en die voertuig dopgehou het. “André was besig om in sy ritboek te skryf toe ons deur drie gewapende mans aangeval is. “Hulle het op ons wapens aangedring en ek is beveel om uit die motor te klim en op die grond te lê. Hulle het ook my selfoon en beursie gevat. “Ek het ‘n skoot gehoor en toe besef die mans het gevlug,” onthou Lotz. Daar word vermoed dat André die aanvallers teëgestaan het en dat 'n skoot in die struweling afgegaan het. Hy is onder die arm getref en het op die toneel gesterf. Die mans het ontsnap met twee vuurwapens, selfone en beursies, asook Nothnagel se rugsak wat op die agtersitplek was. Toe die nuus die Paarlse polisie bereik dat hul kollega vermoor is, het stasiebevelvoerder snr/Supt Mzwandile Tiyo onmiddellik ‘n twintigman taakmag bymekaar geroep en na Guguletu buite Kaapstad gestuur. Binne ure is twee minderjarige verdagtes vir ondervraging aangehou. Saterdag is nog ‘n verdagte in hegtenis geneem. Moord- en roofaanklagte word ondersoek. Vandag is sers Nothnagel se vrou, Barbara, gebroke. Saam met die egpaar se kinders, Wessel (9) en Henrico (6) word sy by hul woning in Bassonstraat, Noorder-Paarl, ondersteun deur talle kollegas, familie en vriende. “Ek kan dit steeds nie glo nie. Ek verwag dat André enige oomblik by die voordeur gaan instap,” sê ‘n hartseer Barbara. “André het Donderdagaand nog vir my ‘n braai-vuur aangesteek voordat hy Guguletu toe is. “Hy het so 20:45 vir my gebel om te vra hoe die braaivleis was en dat hy baie graag eerder by die huis wou wees.” Skaars ‘n halfuur later is Nothnagel doodgeskiet terwyl Lotz om sy lewe gepleit het. Sers Nothnagel was hoof van die sektor wat Paarlse plaasbeveiliging hanteer. ‘n Gewyde stilte het die afgelope week by die Paarl polisiestasie geheers terwyl kollegas Nothnagel se dood probeer verwerk. Die landsvlag het halfmas voor die polisiestasie gewapper.
“André het altyd gelag. Hy was die vriendelikste man wat vir almal probeer help het waar hy kon,” het sy geskokte kollegas hom onthou.
“Hy wou net beter sorg vir sy gesin, maar weens die polisie se bemagtigingsbeleid het bevordering nie meer aan sy deur geklop nie.
Dus het hy gevoel dat hy in sy aftyd vryskutwerk moet doen om sy salaris aan te vul.”
‘n Herdenkingsdiens vir Nothnagel word vandag om 14:30 by die NGK Paarlberg gehou.
* A Paarl police sergeant, moonlighting to supplement his meagre salary, was gunned down in Guguletu last week.
More
News
|