Gregoire herdenk
2005-05-26
MET die onlangse afsterwe van die befaamde skilder Gregoire Boonzaier, het nie net die Suid-Afrikaanse publiek ‘n groot talent verloor nie, maar het Ouma-Granny’s Huismuseum ‘n groot vriend gegroet.
Boonzaier was bevriend met wyle Joyce Hoogenhout, wat die huismuseum met sy outentieke meubels, porselein en naaldwerk in 1990 begin het.
Hulle paaie het meer as 60 jaar gelede gekruis, toe Boonzaaier onder meer op Kanettefontein in die distrik gewoon en geskilder het. Hy het onder meer die Bovlei in heelwat skilderye verewig.
Oor die jare het hy waardevolle skenkings aan Ouma-Granny’s gemaak, onder meer van blou-en-wit Victoriaanse borde en bakke, asook antieke koperware en ‘n konvoor (‘n ou kolebak).
Tussen Generaal Louis Botha se teekoppies, reuse Bybels en ander fyn porseleinware is daar ook ‘n spesiale hoekie ingerig wat Boonzaaier gedenk.
Daar is onder meer knipsels uit plaaslike koerante wat vertel van sy besoeke aan Wellington en die museum. Die laaste keer was in Maart 1997, toe hy nie net ‘n skenking van oudhede gemaak het nie, maar ook ‘n skildery van Distrik Ses aan die munisipaliteit oorhandig het.
Seker die interessantste deel is die talle oorspronklike pensketse wat hy gemaak het van spoke wat hy glo self sou gesien het.
Op die vergeelde tekenpapier het hy notas gemaak oor Corney die spook, “almal se terggees”, die “bandy-legged spook I have seen”, en natuurlik die daggarokende spook. Dié maer figuur teug hartlik aan ‘n pyp terwyl ‘n by op sy reuse neus speel.
Die betrokke pensketse is uniek, vertel Charlotte Cupido, wat haar hand nou oor die museum hou: “Nêrens anders gaan jy sulkes sien nie,” vertel sy trots. Navrae by 873-2534.
More
News
|