Skoolseun sterf op pad
2007-05-24
HY was so gelukkig toe hy Dinsdagoggend uit die huis gestap het skool toe.
Maar minute later was Denver Schroeder (12), in graad 6 in die Groenberg Primêre skool, Wellington, dood.
Denver het na bewering voor ’n aankomende voertuig ingeloop.
“Toe Denver raakgery is, is sy liggaam teen sy twee maatjies, Densil Patience (12) en Ralph Sarlon (6), gegooi,” het skoolhoof Hugh Ross, gesê.
Dié twee het net beserings opgedoen. Die kinders by die skool is erg getraumatiseerd, want hulle het gesien wat gebeur het.
Rubin Sauls, die skoolsielkundige, het dadelik begin om kinders by die skool te beraad.
“Dit is wel ’n teerpad, maar daar is geen loopruimte vir die kinders nie en is baie gevaarlik,” het Ross gesê.
Mina Schroeder vertel dat haar seun Dinsdagoggend besonders gelukkig was.
“Hy het vroegoggend opgestaan en ek het hom nog gesê hy moet teruggaan bed toe. Hy was baie lief om nog televisie te kyk. En soos gewoonlik het hy sy brood en koffie geeët voor hy skool toe is.
“Ek het nog vir hom agterna geskree om nie in die pad te hardloop nie en hy het net teruggeskree hul sal nie.
“Ander oggende sê hy nee vir alles wat ek hom vra, maar vanoggend het hy my gehelp met die kole en ek het die goed laat val en Denver het nog geskater van die lag.
“Nie baie lank daarna nie het my broer gebel en gesê Denvor is raakgery. Ek kon dit nie glo nie,” het sy hartseer gesê.
’n Gedenkdiens word Sondag gehou in die skoolsaal van Groenberg Primêr, om 13:00.
* A boy was run over and two of his friends injured while they were walking to a school outside Wellington.
More
News
|