Tik-monster
2007-05-24
“TIK is ’n naamlose indringer wat ongenooid in jou lewe kom en alles en almal om jou verwoes.”
So vertel die ma van ’n Tik-verslaafde wie se lewe die afgelope vier jaar hel was.
Die gebruik van hierdie dwelm wat goedkoop en maklik beskikbaar is, is besig om epidemiese afmetings in die Drakenstein-gebied te bereik.
Verbruikers is meestal tussen 13 en 18 jaar oud en deskundiges vermoed dat een uit tien kinders tussen hierdie ouderdom verslaaf is aan Tik.
“Niemand begin by Tik nie. Dit begin stelselmatig by sigarette, daarna vorder hulle na dagga en dan dink hulle ‘dis okay’. Die volgende oomblik begin eksperimenteer hulle met sterker dwelms,” sê die ma.
Sy behoort te weet, want dit is die pad wat haar kind (nou 17) geloop het. Hulle is opgevoede mense, ’n middelklas gesin in Paarl-Wes.
“Die eerste keer toe ek opgelet het dat daar fout is, was toe my kind een oomblik heeltemal hiperaktief was en skielik daarna in ’n donker depressie verval het. Hy het vinnig gewig begin verloor en het nie gesond gelyk nie.
“Ek het vermoed dat hy dwelms gebruik, maar myself eers probeer oortuig dat ek oorreageer en dat dit maar net tienerstreke was.
“Maar uiteindelik moes ek die waarheid konfronteer. My ergste vermoedens is bevestig.”
Sy vertel dat dit tóé was dat die geweldige stryd in hul huis begin het om ontslae te raak van die Tik-monster. Haar seun het in graad agt sy rug op die skool gedraai.
“Daar word gelieg, gesteel en jy moet kyk hoe jou kind agteruit- gaan en niks meer vir jou of sy lewe omgee nie.
“Dis nie net die gebruiker wat daaronder lei nie, maar die hele gesin en almal wat naby aan hulle is, word geaffekteer.
“’n Mens se gesinslewe raak ook ’n slagoffer, want as ma probeer jy so hard om die verslaafde te help, dat jy nie besef dat die res van die familie afgeskeep word nie. En persoonlik ly jy onder geweldige stres en depressie,” vertel die ma met ’n diepe moegheid in haar oë.
“Die ergste dag was toe ek in die kombuis kom en my kind staan soos ’n geraamte voor die wasbak. Hy kon omtrent nie meer ’n voet voor die ander sit nie en ’n straaltjie bloed het by sy neus uitgeloop.
“Daardie dag het ek besef dat ek nie alleen my kind kon genees nie. Ek moes professionele hulp soek. Of dit, óf my kind gaan sterf.”
Alhoewel daar maatskaplike organisasies in die Paarl is wat raad gee aan dwelmverslaafdes en hul familie, is die Tik-probleem oorweldigend en is daar slegs beperkte hulpbronne beskikbaar.
“Ek het myself uiteindelik gewend tot ’n ondersteuningsgroep vir vriende en familielede, Tough Love, in Parow, wat vir my raad kon gee oor watter rigting om te gaan vir die genesing van my seun.
“Ek is aangeraai om so gou moontlik vir my seun in ’n program te kry en hy is na ’n rehabilitasie-sentrum gestuur, maar het keer op keer gedros en terug in die Tik-hole beland.
“Later kyk jy vir jou kind en dink jy kan nie meer nie. Jy wil opgee en hom net laat voortgaan op sy pad van verwoesting. Maar hierdie gedagte is van korte duur en jy begin die rehabilitasie weer van voor af.
“Tans is hy weer in ’n rehabilitasie-sentrum en tot dusver gaan dit goed. Maar Tik is ’n duiwel en dis ’n geweldige gespook om dit uit jou sisteem te kry.
“As hulle nie ’n volkome besluit maak dat hulle wil ophou nie, sal hulle nie.
“Ek dra ’n foto in my hart van my seun toe hy nog gesond en lewenslustig was. Ek glo dat hy eendag ten volle sal herstel van sy verslawing en dat hy ’n normale, gelukkige lewe gaan lei. Dit gee my hoop.”
Enigiemand wat daarin belang stel om ’n ondersteuningsgroep in die Paarl-omgewing te begin vir geliefdes van dwelmverslaafdes, kan kapt Louise du Plessis skakel by 021-807-4044. Sy kan ook vertroulik gekontak word met inligting oor dwelmsmouse.
* A mother tells of the nightmare journey with her son who is addicted to Tik
More
News
|