Riverstones hak knoop deur
2007-05-24
DIE manne van Riverstones Rugbyklub is weer sterk op dreef nadat hulle het die afgelope naweek 27-21 met Caledonian Roses klaargespeel het.
Riverstones se voorspelers het, soos gewoonlik, die meeste van die spel beheer met goeie dryfbewegings en ondersteuning by die afbreekpunte.
Dit het goeie balbesit vir die agterspelers beteken wat vier keer hul teenstanders se doellyn besoek het.
Chris Maukiers (2), Hilton Green en Cedric Titus het die drieë aangeteken met Gerswin Paulse wat suksesvol was met een straf- en twee doelskoppe. Riverstones II wen 17-15 en Riverstones III wen 7-0.
* Ten spyte van ongure weersomstandighede het Pniel Villagers Rugbyklub daarin geslaag om Strand United die afgelope naweek tydens ’n wegwedstryd met 18-3 te klop.
Talle ongedwonge foute deur altwee spanne het die vloei van die spel belemmer.
Alhoewel die tuisspan teen rustyd 3-0 voor was, moes Pniel alles in die stryd werp om ’n oorwinning te bewerkstellig.
Kirwin Cyster (senter) was baie prominent met sy breekslae en het die Strand-spelers telkemale op die verkeerde voet gevang.
Die kaptein en agsteman, Garland Alberts, het ’n ystervertoning in die losgemale gelewer.
Claude Voss en Ludwig Johnson het elkeen ’n drie gedruk terwyl Stefanus Cedras met twee skepdoele geslaag het. Jeremy Koukom het verder een drie verdoel.
Ander uitslae: Pniel II wen 22-12, Pniel III wen 10-0 en Pniel o.20 wen 22-7.
* Die span van Young Gardens Rugbyklub het verlede Saterdag goed by die ongure weersomstandighede aangepas om ’n welverdiende tuisoorwinning van 17-0 teen Young Stars aan te teken.
Die swaar, gedugte pak voorspelers van Stars het as ’n eenheid saamgespeel en het Gardens opdraende gegee in die skrums en vaste fasette.
Goeie hantering was egter die deurslaggewende faktor wat Gardens uiteindelik die oorhand gegee het. Hul agterlyn het ook beïndruk met stewige verdediging asook goeie, aanvallende lyne.
Tino Prins (heelagter) het twee drieë en een doel aangeteken terwyl Davey de Kok (losskakel) ook ’n drie gedruk het. Gardens II wen 8-5 en Gardens III verloor 5-3.
More
News
|